Man verdrink toe hy en broer gaan swem

(Argieffoto: NSRI)

ʼn Man het verdrink toe hy en sy broer Sondagaand by die Alkanstrand in Richardsbaai gaan swem het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se reddingspan is omstreeks 18:46 saam met die polisie en Netcare 911 na die strand ontbied.

“Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn plaaslike man, vermoedelik 32 jaar oud, naby die dolosse in die see gewaar,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.

Die man het saam met sy broer gaan swem toe hulle oënskynlik in die moeilikheid beland het. Dit blyk dat hulle deur ʼn seestroom meegesleur is.

Die broer kon die strand haal en is nie beseer nie.

“Reddingswemmers van die NSRI het die man uit die water gehaal en na die strand gebring waar NSRI-paramedici kunsmatige asemhaling begin toepas het. Ongelukkig was die paramedici se pogings om hom by te bring vergeefs en hy is op die toneel dood verklaar.”

ʼn Nadoodse ondersoek sal nou gedoen word en die polisie het reeds met ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

“Ons innige medelye aan die oorledene se familie en vriende,” het Lambinon gesê.

Intussen is die polisie steeds op soek na die 19-jarige man wat Donderdag spoorloos in die see by die Strand in die Wes-Kaap verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig twee familielede het in die moeilikheid beland, terwyl die 19-jarige wat ook familie van hulle is, hulle oënskynlik probeer help het. Hy het glo self in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn.

Lewensredders het die twee vroue gered, maar die man was skoonveld. Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die soektog na die man voortduur.

Die NSRI sê hy is slaggereed vir die vakansietyd wat voorlê. Altesaam 1 500 NSRI-vrywilligers is by 43 reddingstasies gevestig en gereed om 24 uur per dag op noodgevalle te reageer.

“Ons doen ʼn beroep op mense om veiligheidsbewus rakende water te wees,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.