’n 35-jarige man het vandeesweek in ’n rivier in Limpopo verdrink toe hy vermoedelik na ’n man help soek het nadat dié deur ’n krokodil die water ingesleep is.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê Fhulufhuwani Munzhelele (24) het Woensdag langs die Levuburivier in die Vhembe-distrik visgevang toe hy deur ’n krokodil gevang en die water ingesleep is.
Thompho Nemushungwa was glo deel van die soekgeselskap wat Donderdag na Munzhelele gesoek het toe hy vermoedelik onder water vasgekeer is en verdrink het.
Die polisie se duikeenheid kon Nemushungwa se liggaam Vrydagmiddag met behulp van gemeenskapslede uit die water bring. Die soektog na Munzhelele duur egter nog voort.
Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, doen ’n beroep op die publiek om uiters versigtig te wees wanneer hulle visvang by riviere waar krokodille is.
“Dit is nie die eerste voorval wat in hierdie gebied plaasvind nie en ons maan daarom gemeenskapslede om ekstra versigtig te wees wanneer hulle in hierdie gebiede is.”