Man verdrink toe hy vrou probeer red

Die soek-en reddingspan soek na die man wat verdrink het (Foto: IPSS, Facebook)

ʼn 48-jarige man het Maandag in die Umvotirivier aan die KwaZulu-Natalse noordkus verdrink toe hy probeer het om ʼn vrou te red wat deur die rivierstroom meegesleur is. Die man was glo van Mosambiek afkomstig.

Die rivier het glo baie sterk gevloei toe die man in die rivier gespring het om die vrou te red.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Ballito het die middag omstreeks 12:50 inligting ontvang van die man wat besig is om te verdrink in die Umvotirivier, digby KwaDakuze in KwaZulu-Natal.

Quentin Power, NSRI Ballito se stasiebevelvoerder, sê die NSRI se Ballito-bemanningspan, die polisie se soek-en-reddingspan, die polisie se honde-eenheid, KwaDakuze- munisipale lewensredders asook die IPSS Medical Rescue se mediese reddingspan is na die rivier ontbied.

Met hul aankoms by die rivier het die reddingspanne die man begin soek.

Die soek-en reddingspan soek na die man wat verdrink het (Foto: IPSS, Facebook)

Power sê volgens ooggetuies het dit gelyk of die man in die rivier in die moeilikheid beland het voordat hy onder die water verdwyn het.

Twee honde van die polisie se honde-eenheid, Dante en Ghost, het die gebied in die rivier aangedui waar die man moontlik kon wees.

Een van die polisie se duikers het daarna in die rivier ingeduik en die man se liggaam twee meter diep in die water gevind.

Die liggaam is vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur.

ʼn Saak is ook by die polisie geopen.

Die vrou kon daarin slaag om by die rivieroewer uit te kom. Sy het ongedeerd van die voorval afgekom.

“Van die NSRI se kant af wil ons graag ons medelye aan die oorledene se familie betuig,” sê Power.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.