Man verdrink toe kano by Plett omslaan

Die NSRI van Plettenbergbaai het drie reddingsvaartuie te water gelaat. Skermskoot: Facebook

ʼn Man het verdrink terwyl nog ʼn man en twee seuns gered kon word nadat hul kano omgeslaan het in die mond van die Keurboomsrivier by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap.

Die NSRI het Sondag gesê die polisie het hul reddingspan Saterdag omstreeks 15:30 ontbied nadat berig ontvang is van die kano wat in die riviermond omgeslaan het, sê die plaaslike NSRI-stasiebevelvoerder, Marc Rodgers.

Die seereddingvaartuie Ray Ray Farnham, Airlink Rescuer en Free Runner is geaktiveer, terwyl onder meer die NSRI-reddingsvoertuig, SAPD, ambulansdiens en gemeenskapsbeskermingsvereniging ook gereageer het.

Rodgers vertel toe hulle op die toneel aankom by Poortjiestrand in die mond, het hulle ʼn kano aangetref wat omgeslaan het met vier mense aan boord: twee 30-jarige mans en twee seuns, albei agt jaar oud. “Ons meen van die plaaslike vissermanne het hulle al vier uit die water gered.”

Lewensredders het KPR op een van die mans en een van die kinders, wat in ʼn kritieke toestand was, toegepas. Die ander man en seun is vir skok en nielewensgevaarlike verdrinkingsimptome behandel. Al vier is hospitaal toe geneem, maar die poging om die een man te red, was onsuksesvol.

Die een seun het oornag in ʼn kritieke toestand in die hospitaal op Plettenbergbaai oorgebly, maar nadat sy toestand gestabiliseer het, is hy Sondagoggend na ʼn hospitaal in George oorgeplaas. Sy toestand is ernstig maar bestendig, sê Rodgers, maar die dokters is vol vertroue hy sal volkome herstel.

Die tweede man en seun is albei ontslaan nadat hulle behandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Onnie ·

Suidkaap is deel vd wes kaap peaches. Keurboomsmond is baie gevaarlik as jy hom nie ken nie. Ons boot het jare gelede ook daar omgeslaan toe ek n kind was, my pa en sy vriende was byna dood!

Andre ·

Peach, Plett is ook in die Suid Kaap. Ek bly in George en hier praat hulle van die Suid Kaap , deesdae beter beken as die Eden Distrik. Suid Kaap of Eden strek vanaf Stilbaai tot by Plettenberg Baai, maar in die groter prentjie is ons deel van die Weskaap. Ek is n groot WP ondersteuner en skree eerder vir die WP as die SWD Arende van George. (Suid Westelike Distrik). Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.