Man verdrink toe rubberboot omslaan

Foto: NSRI

ʼn Man het Sondag verdrink nadat ʼn rubberboot in die golwe by ʼn strand in Clifton, Kaapstad, omgeslaan het.

Mark Thompson, stuurman van die Nasionale Seereddingsinstituut se Bakoven-stasie, het gesê die Bakoven-bemanning is omstreeks 09:50 na Eerste Strand in Clifton ontbied.

Daar het hulle die kaptein van die boot op die strand aangetref. Hy het bevestig dat hy en nog ʼn man op ʼn rubberboot in die see was toe dit in die golwe omgeslaan het. Hy kon daarin slaag om na die strand te swem, maar die 34-jarige bemanningslid het in die see vermis geraak. Die rubberboot het intussen op die strand uitgespoel.

Die mans was glo op bystand vir ʼn private swemsessie voordat die boot omgeslaan het.

Foto: NSRI

Volgens Thompson is twee NSRI-reddingsbote uitgestuur om na die vermiste man te soek. Intussen is paramedici, polisiebeamptes, lede van die polisie se duikeenheid, die Wes-Kaapse nooddienste, lede van die plaaslike brandweereenheid, lewensredders en ʼn reddingshelikopter ook na die toneel gestuur om met die soektog te help.

“Ná ʼn uitgebreide soektog vanuit die lug, in die see en op land het lede van die publiek ʼn man in die see sien dryf by Vierde Strand in Clifton. Hulle kon daarin slaag om die man tot op die strand te bring waar paramedici gepoog het om hom weer by te bring. Hul pogings was egter tevergeefs en hy is op die toneel dood verklaar,” het Thompson gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carel ·

Op bystand vir ‘n private swemsessie, en toe verdrink hy? Moes hy nie eerder ‘n reddingsbaadjie aangehad het nie? Klink gladnie gesond nie!!

Cherokee ·

Interessante kommentaar, Carel. Die lewensredder verdrink toe. Dit is tragies maar ironies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.