Man verdrink tydens vloede

Die strate om George is onder water (Foto: Verskaf)

ʼn 70-jarige man is dood toe hy Dinsdag in Mosselbaai in die Wes-Kaap met sy dubbelkajuitbakkie oor ʼn laagwaterbrug probeer ry het. Die bakkie het in die vloedwaters beland en is deur die water meegesleur.

Intussen is honderde mense in George in nood gedompel nadat dié dorp Maandag erg oorstroom het.

Volgens kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, is die polisie Dinsdagoggend na die laagwaterbrug op die Geelbeksvleipad in Brandwag ontbied. Groot dele van die Tuinroete is sedert Maandag oorstroom nadat dit onophoudelik hier gereën het.

“Die polisie se landelike sektorbestuurder het in die water geduik en ’n venster oopgedwing om toegang tot die kajuit van die voertuig te kry,” bevestig Pojie.

“Die beampte het die man uit die bakkie gehaal en hom probeer bybring. Die man het egter geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”

’n Lykskouing sal in die week uitgevoer word om die presiese oorsaak van die man se dood te bepaal.

Opruimingswerk in George

George het veral onder die vloede deurgeloop met 148,5 mm reën wat tussen Maandag en Woensdagoggend in die stad aangeteken is.

Die stad is byna tot stilstand geruk en talle inwoners moes na veiligheid gebring word. Motors was in vloedwater vasgekeer, geboue en huise was oorstroom en paaie moes noodgedwonge gesluit word.

Volgens die George-munisipaliteit is daar erge skade aan infrastruktuur in die stad en sal opruiming- en herstelwerk Woensdagoggend afskop. Verskeie organisasies en inwoners het Dinsdag al ingespring om die nood in die stad wat weens die vloede veroorsaak is, te verlig.

Volgens die munisipaliteit het 26 formele huise oorstroom. Daar is tot op hede meer as 800 gesinne van informele strukture geïdentifiseer wat erg deur oorstromings geraak is en hulp benodig.

“Geen ernstige beserings of sterftes is aangemeld nie. Die munisipaliteit se nooddienste het Maandag op een motorongeluk gereageer,” sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Die munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste sal Woensdag hervat nadat dit Maandag weens die vloede gestaak is.

Boonop het ’n hooftoevoerwaterpyp Maandag in die stad gebars en talle inwoners sonder water gelaat. Volgens die munisipaliteit word watervragmotors na strategiese gebiede gestuur.

“Die watersituasie bly kritiek met reservoirvlakke wat min water aan die oostelike dele van die stad en die middestad voorsien,” bevestig die munisipaliteit.

Teen Woensdagoggend was Thembalethu, Pacaltsdorp, Blanco, Conville, Borcherds, Lawaaikamp, Proteapark, New Levallia, Blue Mountain en omgewing die enigste gebiede wat nie deur die wateronderbreking geraak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fae Fubar ·

Innigste simpatie met die familie. Mag julle mense van George spoedig herstel van julle ellende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.