Man verdrink voor vriend tydens visvanguitstappie

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn 35-jarige man van Bethlehem in die Vrystaat het in ʼn dam buite die dorp verdrink toe hy en ʼn vriend gaan visvang het.

Kapt. Zweli Mohobeleli, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het Woensdag by die Loch Lomond-dam in die omgewing van Lindleyweg plaasgevind.

“Dit is nog nie duidelik wat presies tot die verdrinking gelei het nie. Die vriend het hulp van ander vissermanne ontbied toe hy sien sy vriend is in die moeilikheid,” het Mohobeleli gesê.

“Die ander vissermanne het vergeefs probeer om die slagoffer te help. Die reddingsproses is bemoeilik deur sterk waterstrome en hy is op die toneel dood.”

Mohobeleli het gesê die man was ʼn inwoner van Uitbereiring 8 in Bohlokong. Sy naam kan nog nie bekend gemaak word nie totdat al sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Mohobeleli het ʼn beroep op vissermanne gedoen om ekstra versigtig te wees veral ná die onlangse swaar reën. “Die watervlakke van verskeie damme het gestyg wat visvang van in die water gevaarlik maak. Bly eerder op die oewer en maak altyd gebruik van veiligheidstoerusting soos ʼn lewensbaadjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.