Man verdwyn by Gordonsbaai

Nadeem Kellerman (Foto verskaf)

ʼn Soektog duur voort al langs die kus langs die R44 in die omgewing van Gordonsbaai vir ʼn 35-jarige man van Mitchells Plain wat Saterdag tydens onbekende omstandighede verdwyn het.

Alan Meiklejohn, Gordonsbaai-stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê Nadeem Kellerman was saam met familie en vriende wat langs die kus visgevang het.

“Kellerman is laas ongeveer 100 m van sy neef gesien waar hy op die rotse visgevang het. Toe hy nie later terugkeer nie, het hulle na hom gesoek, maar kon geen teken van hom vind nie en hulle het alarm gemaak.”

Die NSRI is Saterdagmiddag omstreeks 15:00 ontbied en ʼn soektog is uitgevoer saam met die Wes-Kaapse nooddienste, die Suid-Afrikaanse Polisie, Stad Kaapstad se brandweer, wetstoepassers en verkeersdienste. “ʼn Omvattende soektog is padlangs en in die see al langs die kus uitgevoer. Die omstandighede rondom sy verdwyning bly onbekend. Die polisie stel ondersoek in na ʼn vermiste persoon,” het Meiklejohn bygevoeg.

Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het Sondag by NSRI Gordonsbaai en wetstoepassers se soektog aangesluit. Die polisie se duikeenheid staan ook gereed.

“Daar is kommer dat die man moontlik in die see geval of deur die golwe van die rotse afgeslaan is,” het Meiklejohn verduidelik.

Kellerman het ʼn donkerrooikleurige baadjie aangehad toe hy verdwyn het. Enigiemand met inligting word versoek om die polisie in Gordonsbaai te kontak by 021 856 2677.

“Ons dink aan die man se familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Flip

Ek het self al n noue ontkoming gehad met n “fratsgolf” op die rotse by Gordonsbaai. Dit was met n hengel uitstappie. Van toe af draai ek NOOIT weer my rug op die seë nie. Hoop hulle vind die man en dat hy ongedeerd is.