Man verdwyn in see by Oubaai

Oubaai Foto: DeonVanR, za.geoview.info

Oubaai Foto: DeonVanR, za.geoview.info

ʼn Man het in die see verdwyn nadat ʼn golf hom van die rotse afgeslaan het by Oubaai naby Heroldsbaai in die Wes-Kaap.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se span in Wildernis is Saterdag net ná 12:00 ontbied deur lede van die Oudtshoorn Polisie-akademie, nadat een van hul lede in die see by die Oubaai-gholfoord, tussen Wildernis en Mosselbaai, verdwyn het, het Robert van Helsdingen, stasiebevelvoerder, gesê.

“ʼn Omvattende see-, lug- en kuslynsoektog is van stapel gestuur vir die 29-jarige man, glo oorspronklik van Gauteng, wat ʼn lid is van die SAPD se akademie in Oudtshoorn,” het hy verduidelik. “ʼn Groep mans was op die rotse op die kuslyn onder die Oubaai-oord toe ʼn golf die man van die rotse afgeslaan het. Volgens berigte het ʼn vriend in die see gespring om hom te help, en die vriend kon veilig weer die kuslyn bereik nadat hy nie meer die vermiste man kon sien nie.”

Ondanks ʼn omvattende soektog, is daar nog geen teken van die man nie.

“ʼn Duikeenheid van die polisie sit die soektog voort. Die springgety, wat Saterdag ʼn hoogtepunt bereik met die nuwe maan, se impak op die kuslyn, kan nog vir die volgende paar dae voortduur,” het Van Helsdingen bygevoeg.

Die springgety gebeur twee keer elke maand, met volmaan en nuwe maan, en duur vir ʼn paar dae lank. Die springgety veroorsaak ʼn hoër hooggety as gewoonlik en ʼn laer laaggety as gewoonlik met sterker sleurstrome.

“Die nuwe maan se springgety en die groot golwe in die gebied het waarskynlik tot die voorval bygedra. Die publiek, visvangers, swemmers, persone wat op die strand stap en kanovaarders word versoek om baie versigtig te wees naby die kuslyn en bewus te wees van rowwe seetoestande en die springgety en sy invloed op die kuslyn,” het Van Helsdingen gesê.

Die seereddingsvaartuig Oscars Rescue, ʼn reddingsvaartuig en reddingswemmers van die NSRI, provinsiale departement van gesondheid se nooddiensspan, ER24, en EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter is ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Foxi ·

Sal mense nooit leer om nie naby die rotse te staan by die see nie.
Stil is hierdie man weg……..net weg! So jammer vir sy naasbestaandes.

Andre ·

Hy werk. Hoera Maroela werk na maande weer op my selfoon. Baie dankie.

John ·

Gevaarlike kus daardie. Die see is die hele tyd wild en die vakansiegangers waag dit op die vreemdste plekke tydens hooggety selfs met jong kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.