Man verdwyn, nog een by natuurreservaat gered

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Nasionale Seereddingsinstituut) 

Wes-Kaapse reddingswerkers is op soek na ’n man wat Woensdag in die water verdwyn het toe hy by die Wolfgat-natuurreservaat in Kaapstad gaan swem het.

Nog ’n man is gedurende die voorval uit die water gered.

Die mans is vermoedelik albei van Tafelsig en was saam in die water toe hulle in die moeilikheid beland het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê reddingswerkers van die NSRI Strandfontein en die Stad Kaapstad is omstreeks 14:33 saam met onder andere die polisie en metropolisie na die natuurreservaat ontbied.

Die owerhede het met hul aankoms ’n beseerde man op die strand tussen die natuurreservaat en Monwabisi, op ’n afgeleë strand, aangetref.

Dié man (32) is vermoedelik kort tevore deur die Stad Kaapstad se lewensredders en lede van die publiek uit die water gehelp. ’n 28-jarige man was egter nog soek nadat ooggetuies hom onder die water sien verdwyn het.

“Ons glo dat die twee mans geswem het toe hulle in die moeilikheid in die water beland het,” sê Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI.

’n Helikopter is ingespan om na die man te help soek as deel van ’n uitgebreide see-, lug- en kuslynsoektog. Die soektog was tot dusver onsuksesvol.

Die polisie se duikeenheid sal die soektog voortsit, sê Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.