Man verdwyn op pad na ambassade

Tiaan Barnard. Foto: Facebook.

Daar is steeds geen teken van Tiaan Barnard (35), die man en pa van twee van Pretoria, wat Maandag vermis geraak het nie.

Veronica Barnard, sy vrou wat byna tien jaar al met hom getroud is, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar man het haar Maandagoggend nog by die huis gegroet en gesê hy is op pad na die ambassade van die Demokratiese Republiek van die Kongo om ʼn kwessie oor sy visum uit te sorteer.

“Ek het nog vir hom ʼn lysie kruideniersware gegee wat hy vir ons moes optel voor hy vlieg. Dit was sy beplanning om later die dag te vlieg na die Kongo. Hy reis gereeld na ander lande vir sy werk. Hy is in die landboubedryf en help boere spesifiek met suikerrietstropers en opleiding rondom die gebruik daarvan,” het Veronica gesê.

Sy het gesê sy het Tiaan later die dag probeer bel aangesien hy gesê het hy sal haar by die werk kom groet voordat hy vertrek en hy nooit opgedaag het nie. Sy foon was af, maar sy het vermoed hy het dit dalk afgeskakel by die ambassade of dat die battery miskien uitgeloop het.

Teen die tyd dat sy om 17:00 by die werk gery het, het sy Tiaan se kantoor asook een van sy broers probeer bel, maar hulle het vir haar gesê dat hulle hom ook nie in die hande kon kry nie.

“Toe ek teen 18:00 by die huis kom het ek Monitor Net geskakel en hulle het gehelp en ons het ernstig begin navrae doen en begin rond bel. Ons het die polisie gevra om uit te kom om ʼn saak oop te maak. Toe hul teen 21:00 nog nie uitgekom het nie, is ek met my ma en kinders en almal om 21:30 in die kar na die Wierdabrug-polisiestasie en het toe die saak daar aanhangig gemaak,” het sy gesê.

Die storie het verder verdiep toe ʼn onbekende man Veronica Dinsdag bel en vertel dat hy Barnard se paspoort met haar naam en nommer daarin op die R511 tussen Erasmia en Diepsloot by ʼn vulstasie opgetel het.

Barnard se verlate motor, ʼn silwer Fiat 500x met registrasienommer FM 51 GL GP, is ook Dinsdagaand by die Wonderboom Junction-1winkelsentrum opgespoor. “Die kar is geïdentifiseer deur die registrasienommer en my man se hoed is daarin aangetref.”

Veronica vertel dat hul sesjarige seun en vierjarige dogtertjie in dié stadium nog nie regtig van iets weet nie. “My emosies is op en af, dan is ek oukei, dan is ek nie oukei nie…. Ons hoop regtig hy word gevind.”

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, het aan Maroela Media bevestig dat die organisasie hulp verleen met die ondersoek.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die Wierdabrug-polisie, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn vermiste persoon- saak en dat Barnard se verlate motor Dinsdag opgespoor is.

Die soektog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Danie ·

Ek hoop hulle kry lewend en gesond.

Eintlik tragiese hoe gou die Polisie hier reageer. In ‘n ander berig: Die Polisie in Amerika (Kanada) daag op nog voordat ‘n pizza koud is onderrig die klaer oor die gebruik na noodnommers.

In Suid-Afrika ry jy op die ou end na 3 ure na die Polisiestasie en maak ‘n saak oop.

êrens in die verlede het iemand blykbaar voorspel dat sal net beter gaan.

bekommerd ·

o jinne sterkte mense die geval klink nie goed nie MAAR HOOP BESKAAM NIE

Ag nee ·

Ag nee ek hoop regtig hy word gevind. Klink net nie goed nie, ag man. Sterkte vir hierdie vroutjie en kidners met die soektog, ek bid vir jul dat hy gevind word.

Wenner ·

Vrou, NET jy gaan REGTIG verstaan waardeur hierdie vroutjie gaan. Ons ander kan sê: Sterkte, ons bid vir julle. Maar JY verstaan haar HART.

wat? ·

Jou kommentaar is uiters swak en ongevraagd. As jy niks goeds kan se nie bly liewer stil

Elsa Smit ·

ai ek hoop hierdie man word gevind en is ongedeerd en veilig. sterkte aan sy familie

Alma ·

Ag, genade, ek kan net dink waardeur hierdie arme vrou gaan. Mag hy tog veilig wees.

Popsa ·

Ek glo die paspoort met haar naam en nommer was moontlik sy wyse manier om met Veronica te probeer kommunikeer in die spesifieke situasie waarin hy homself bevind het. Hy wou moontlik oa hê sy moet weet hy is nié uit die land uit soos beplan is nie. Sterkte Veronica. Ons vertrou saam met jou.

Op en af ·

… op-oomblikke?? ‘n Mens noem dit hoop, Jo, HOOP. JY is regtig nie “oukei” nie; gaan sien ‘n kopdokter!!

Anelle ·

Dit is verskriklik onstellend! Ek hoop daar is more al nuus. Hoop hy word veilig gevind.

Anelle ·

Dit is verskriklik onstellend! Ek hoop daar is more al nuus. Hoop hy word veilig gevind.

Oom Kalahari ·

Ons bid vir Tiaan en familie. Mag die Here “n hand van beskerming oor hom hou en veilig terug bring huistoe.
Dit is darem net opvallend hoeveel mense deesdae net verdwyn en is van opinie dat hier ‘n sindikaat betrokke is. Sterkte aan die familie.

lulu ·

ASB ONSE VADER mag daar vandag nuus wees dat die Pappa ongedeerd gekry is En almal wat so try klippe gooi maak seker van jul saak Maklik om gou iemand in ons wilde weste te beskuldig

Andrea ·

Goeiemôre! Is daar al nuus oor Tiaan? Dink so baie aan julle en bid dat hy veilig gevind word.

Theresa ·

Was hy by die ambassade? Wat sê die mense daar?
Indien wel, hoe laat het hy gery? Was hy alleen daar weg?
Daar is sekuriteit by elke ambassade – hoop hul het antwoorde. Dalk iets op kamera.

janine roos ·

Tiaan is gevind. Hy is tans by Unitas. Hy het geen rekolleksie van wat met hom gebeur het nie. Maar hy is lewendig… dit al wat tel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.