Man verkrag weer ses maande ná parool

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn Man is ʼn swaar straf opgelê nadat hy in 2018 ʼn vrou in Lethabong naby Rustenburg, Noordwes, verkrag het. Dit terwyl hy ʼn skrale ses maande vantevore vir dieselfde soort misdryf op parool vrygelaat is.

Kleinboy Nakana Kwele (52) het verlede week in die Bafokeng-streekhof in Tlhabane verskyn nadat hy skuldig bevind is aan verkragting.

Die hof het Kwele 20 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van ʼn 45-jarige vrou.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê Kwele het in Desember 2018 twee vroue genader wat besig was om vuurmaakhout op te tel.

“Hy het die twee geld aangebied vir seksuele gunste, maar albei het geweier,” sê Funani.

“Hy het die vroue met ʼn mes gedreig en een van hulle gegryp, in die bosse gesleep en verkrag.”

Kort ná die voorval het die slagoffer die verkragting aan die polisie aangemeld. Kwele is ʼn paar dae later in hegtenis geneem.

“Ondersoekbeamptes het bevind dat Kwele op parool was ten tyde van die misdryf. Hy het in daardie stadium ʼn vonnis vir ʼn verkragting wat hy in 2006 gepleeg het, uitgedien.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die betrokke ondersoekbeamptes en die staatsaanklaers bedank dat hul daartoe verbind was om ʼn swaar straf teen Kwele te verseker.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal voortgaan om teen geslagsgebaseerdegeweld te baklei,” sê Kwena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jr ·

Ja polisie en die wet sal baklei teen GBV deur hulle borg te gee. Wow super oplossing daai

ES ·

Jr, die polisie staan nie borg toe nie, die hof staan borg toe. Jy verwar parool met borg. Parool word toegedien na/tydens tronkstraf. Borg word toegestaan onder spesifieke omstandighede, voor jou saak begin.

Harley Davidson ·

Is daar iets in hierdie piesang Republiek wat werk soos dit moet?

Oosieoos ·

Duidelik moet die parool raad ondersoek word. Hulle moet in sulke gevalle ook aangekla word vir hul swak besluitneming

Nie Verbaas ·

Ek is verheug om te verneem dat die departement van korrektiewe dienste se rehabilitasie programme waarmee hulle so mildelik spog so “suksesvol” is. Word wakker ANC. Julle totale onvermoë word by die dag erger.

Casper ·

Die SAPD sal voortgaan om teen geslagsgebaseerde misdaad te baklei maar van hulle lede pleeg self die walglike dade met vrouens.

ES ·

Mense kan hulle baie goed gedra in die tronk en uitkom en daarna weer misdade pleeg. Die straf is nie swaar genoeg nie en ons “rehabiliterende tronkstraf” taktiek werk nie.

Dis tyd vir die strafstelsel om hersien te word. Misdadigers het die tyd van hul lewens in die tronk…

Di ·

Hierdie tipe hoort permanent agter tralies! Daar is oor en oor bewys dat hulle nie gerehabiliteer kan word nie. ENIGSTE oplossing is om al hierdie verkragters te kastreer, PUNT

SjN ·

wanneer begin hul met die chemiese kastrasie proses soos deur die een kader voorgestel?

Wat op dees Aarde ·

Parool is ‘n euwil. Dit moet glas nie toegestaan word aan moordernaars en verkragters nie. Hule moet vir die res van hulle lewe in die tronk sit. Hopelik help ‘n bende hulle om vinniger van die Aarde te verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.