Man verlam ná hoewe-aanval

Peet van Wyk (46).

Peet van Wyk (46) is deur dokters meegedeel dat hy nie weer sal kan loop nie nadat hy vroeër die week tydens ʼn hoewe-aanval in Bapsfontein, Gauteng, geskiet is.

“Gister was maar vir ons weer een van die moeilikste dae tot dusver oor die finaliteit dat Peet nou verlam is van sy middellyf af ondertoe. Sy long, lewer en gebreekte rib sal geleidelik vanself herstel, maar die koeël wat nog vassit by T10 in sy werwelkolom het sy ruggraat te erg beskadig,” het sy familie laat weet.

Van Wyk sal volgende maand ʼn operasie ondergaan waar daar gepoog sal word om die koeël te verwyder.

“Ons word bemoedig deur die uitgieting van soveel liefde en ondersteuning en gebede van honderde mense van oral af. Dit hou ons regop en aan die gang. Dis nou hef aan vorentoe met sy rehabilitasie en die skep van ’n nuwe leefwêreld vir hom en vir ons.”

Volgens die familie bly hulle positief, optimisties en dankbaar. “Hy is oukei, sy gemoedstoestand ook, maar ons besef dat hy nog deur diep waters sal gaan en is gereed om hom daardeur ook te ondersteun. Ons is nooit ’n maklike lewe belowe nie, maar Krag van Bo af wel.”

Van Wyk, ʼn kitaaronderwyser, het Maandagaand laat op die stoep van sy huis gesit, toe twee mans hom oorrompel het.

Van Wyk se broer, Albertus, het gesê een van die mans was met ʼn vuurwapen gewapen en die ander een met ʼn graaf.

Hy het gevra wat hulle soek, maar is beveel om stil te bly. Sy ouers, Abrie en Ria, woon in hul eie huis op die hoewe en Peet het begin skree om hulle aandag te probeer trek.

Volgens Albertus het een van die mans sy broer met ʼn graaf teen die kop geslaan, vermoedelik in ʼn poging om hom stil te hou, waarna die man se makker Peet in die bors geskiet het.

“Hy het geval en gevoel sy bene word lam,” het Albertus gesê.

Die rowers is in die huis in, waar hulle ʼn ou skootrekenaar gegryp en gevlug het. Volgens Albertus is sy broer al twee keer vantevore besteel en was daar nie items van groot waarde in sy huis nie.

ʼn Inwoner van ʼn aangrensende hoewe het die skoot gehoor en Peet se ouers gaan roep. Hulle het op hom afgekom waar hy voor die huis om hulp gelê en roep het.

Albertus het gesê verskeie bure het opgedaag om te kom help. Daar is druk op Peet se wond gesit om die bloeding te keer terwyl hulle sowat ʼn uur lank op ʼn ambulans gewag het. “Hy het in ʼn stadium gesê hy kry nie meer asem nie en hulle het vir omtrent ʼn uur lank asem in sy mond geblaas.

“My ma het haar eie kind aan die lewe gehou vir ʼn uur en ʼn half. In die ambulans kon hulle in ʼn stadium nie ʼn bloeddruk kry nie… Maar sy is ʼn sterk vrou.”

Peet is aanvanklik na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem waar hy gestabiliseer is en is daarna na die Steve Biko- Akademiese Hospitaal oorgeplaas.

Die aanvallers is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Wes-Kaap

Sterkte aan al sy naasbestaandes. Ons is sedert April hierdie jaar deur soortgelyke trauma toe ons skoonseun in motorfietsongeluk was. Hy is van T6/7 na onder verlam. Wat dit verreger is dat die skuldige motorbestuurder wat van Zim afkomstig is en wat ‘n stopteken verontagsaam het, nog nie eers aangekla is nie. SAPS slapgat verby. Sterkte

Bendons

My vraag is hoekom laat ons die tipe dinge toe.
Ek bid elke aand vir ons almal hier in SA.

Drikus

Ai. Hartseer. Onverdiend. Onverstaanbaar. Bid vir die persoon. Niks is onmoontlik nie.

Isabel

Sterkte nog ʼn blanke man wat met die land se ongevraagde geweld moet betaal om sy lewens omstandighede moet aanpas te opsigte goed wat geen gewetens het nie maak net wat hulle wil en kom niks oor die Vader ek hoop hulle gaan so gestraf word dat hulle nooit dit sal vegeet in hulle lewe of hiernamaals God slaap nie hulle moet net weet ????????