Man vermis in see by Hermanus

Foto: NSRI

Foto: NSRI

‘n Man word vermis nadat hy Sondag deur die see meegesleur is in Hermanus in die Wes-Kaap.

“Die 68-jarige man het glo saam met sy 43-jarige vriend op die rotse gestaan. Hulle het foto’s geneem toe hulle deur ‘n golf van die rotse af geslaan en deur die see meegesleur is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.

“Die 43-jarige man kon daarin slaag om uit die water te kom en het bevestig dat sy vriend onder die water verdwyn het en nog nie weer gesien is nie.” Lambinon sê ondanks ‘n uitgebreide soektog was daar nog teken van die vermiste man nie. Die polisie ondersoek ook die saak.

“Die polisie het nog nie die vermiste man se naam bekend gemaak nie aangesien hulle nog probeer om sy familie op te spoor,” het Lambinon gesê. Hy het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om versigtig te wees aangesien die kouefront wat tans oor die land beweeg rowwe seetoestande tot gevolg het.

“Hengelaars, watersport-entoesiaste, roeiers en swemmers word veral aangeraai om uiters versigtig te wees. Ons doen ‘n beroep op die publiek om nie langs hawemure te beweeg waar golwe oor die mure kan slaan nie,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.