Man vermis ná hy in berg gaan stap

Stephan Naudé het Woensdag vermis geraak het toe hy in die berg by Stellenbosch gaan stap het [Foto: Suzanne Naudé, Facebook]

’n Man van Stellenbosch in die Wes-Kaap, wat Woensdag vermis geraak het toe hy in die berg gaan stap het, was teen Sondag nog nie opgespoor nie.

Stephan Naudé (27) is Woensdag omstreeks 13:00 die laaste keer by die hangbrug aan die voet van die berg by Stellenbosch gesien.

Volgens die Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, is Naudé Woensdag op ’n kringtelevisiekamera vasgevang waar hy in die rigting van die berg gestap het.

Naudé Woensdag op ’n kringtelevisiekamera vasgevang waar hy in die rigting van die berg gestap het [Foto: Suzanne Naudé, Facebook]

Volgens Naudé se suster, Suzanne Naudé, het hy stapskoene, ʼn kakiebroek, ʼn kakiehoed en ʼn blou hemp aangehad ten tyde van sy verdwyning.

Volgens die Pink Ladies is Naudé op medikasie wat hy nie by hom het nie.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het aan Maroela Media bevestig die WSAR het kragte saam met die soek-en‑reddingspan van die Wes-Kaapse departement van gesondheid gespan om Naudé te soek. ’n Helikopter en ʼn hommeltuig is al in die lug opgestuur om na hom te soek.

“’n Groep van 50 mense, onder wie WSAR-lede, lede van die publiek, veldwedlopers en lede van ons honde-eenheid, het Sondag na Naudé help soek. Die soektog het helaas niks opgelewer nie,” sê Marais.

Die soektog gaan Maandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lindi ·

Hopelik is hy veilig maar rerig hoekom gaan stap mense in berge alleen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.