Man vermis ná hy vriende in see wou help

Beyers Coetzee (57) het in die see by Koffiebaai verdwyn toe hy sy vriende wou help. (Foto: Verskaf)

Daar is steeds geen teken van die 57-jarige man wat Saterdag in die see by Koffiebaai in die Oos-Kaap verdwyn het nadat hy sy vriende in die onstuimige water te hulp gesnel het nie.

Beyers Coetzee, ʼn IT-spesialis van Moreletapark, het saam met vriende vir die langnaweek in dié omgewing gekamp toe die voorval plaasgevind het.

Sy gewese vrou, Ronel, het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat Coetzee op die strand gesit het toe die kajak waarin twee van sy vriende geroei het deur ʼn brander omgeslaan is.

Coetzee het glo sonder huiwering die see ingevaar in ʼn poging om sy vriende – wat deur ʼn sterk stroom ingetrek is – te red.

“Hy het tot by die kajak geswem en ingeklim. Die kajak het egter weer omgeslaan en Beyers het onder die water verdwyn.

“Hy het uiteraard nie ʼn lewensreddingsbaadjie aangehad nie omdat hy saam met sy vriende se kinders op die strand gesit het.”

Ronel sê die twee vriende, wat elkeen ʼn lewensreddingsbaadjie aangehad het, het na sowat 30 minute weer veilig uit die see gekom.

Beyers Coetzee by sy seuns, Johannes (links) en Dawid. (Foto: Verskaf)

“Dis wie Beyers is. Hy sal enigiemand help sonder om twee keer te dink of dit dalk ʼn gevaar vir sy eie lewe kan inhou.”

Sy sê Beyers het ʼn “groot hart”. Hoewel hulle nie meer getroud is nie, is hulle steeds vriende wat mekaar gereeld sien. Hulle het ook twee seuns, Johannes (24) en Dawid (21).

“Dit gaan glad nie goed met hulle nie. My kinders het sensitiewe harte en is regtig baie na aan hul pa. Dis ʼn groot slag vir hulle.”

Ronel sê Johannes het boonop ʼn maand gelede na Duitsland verhuis en het niemand wat hom daar kan bystaan nie.

Beyers Coetzee (57) het in die see by Koffiebaai verdwyn toe hy sy vriende wou help. (Foto: Verskaf)

“Ons praat elke dag. Ek is op die oomblik maar die buffer en sal alles dra wat my kinders emosioneel nie kan dra nie.”

Sy het Coetzee Woensdag laas gesien toe hy Dawid by haar huis in Waterkloofrif opgelaai het om vir die naweek in sy huis te gaan bly terwyl hy weg is.

Die vriende saam met wie Coetzee gekamp het hou Ronel intussen op hoogte van sake.

“Daar is nog geen teken van hom nie. Die polisie, nasionale seereddingsinstituut en gemeenskap soek steeds na hom. Ek verstaan hulle gaan Woensdag ook honde inbring wat makliker op die rotse kan loop en soek.”

Sy sê hulle klou steeds aan hoop vas dat Coetzee lewend gevind sal word.

“Jou hele instink sê vir jou ‘maar dis mos nie moontlik nie’. Jy moet egter aanhou hoop totdat daar konkrete bewyse van die teendeel is.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.