Man vermis ná kitsvloede in Pta

Die plek waar die man se motor deur vloedwater meegesleur is. Foto: Facebook

Die plek waar die man se motor deur vloedwater meegesleur is. Foto: Facebook

Swaar reën wat sedert Dinsdag oor Pretoria voorkom, het tot gevolg dat verskeie laagwaterbrûe in die stad oorspoel het. ʼn Grootskaalse reddingspoging is van stapel gestuur na ʼn man vermoedelik in sy motor deur die Apiesrivier meegesleur is.

Die Tshwane Metropolisie het motoriste gewaarsku dat verskeie paaie in Centurion, Rooiwal en die Moot-gebied gevaarlik oorspoel is.

In Centurion oorspoel die Hennopsrivier die laagwaterbrug in John Vorster-rylaan, Lenchenweg en Blackwoodweg. In die Rooiwal-omgewing, noord van Pretoria, is die Apiesrivier ook in vloed en die R101 by Sphinx en Honingnestkrans oorspoel. Die laagwaterbrug in Capital Park in die Moot is ook oorspoel.

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Facebook

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Facebook

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê nooddienswerkers het hul hande vol met minstens drie voorvalle waar motors in vloedwater beland het en talle botsings weens die swaar reën en nat paaie.

ʼn Groot reddingspoging is teen 09:00 by die Apiesrivier by Honingnestkrans van stapel gestuur nadat ʼn motor deur vloedwater meegesleur is. “Die motor is diep in die rivier in meegesleur. Dit was eers nie duidelik of daar iemand in die motor was nie omdat die motor onder die water versteek was. Ons kon egter al vasstel dat daar nie rekenskap van die eienaar van die voertuig gegee kan word nie,” het Pieterse gesê.

Hy het gesê die rivier vloei sterk en dit bemoeilik die reddingspoging. “Die water is ook baie vuil en sigbaarheid is baie swak. So, die polisieduikers moet onder die water voel wat aangaan.” Die soektog na die 40-jarige eienaar duur voort en reddingswerkers probeer om by die motor uit te kom.

Hy het gesê in die ander twee voorvalle waar motors deur vloedwater meegesleur is, kon die bestuurders self daarin slaag om uit die motors te kom. Buiten die man wat vermis word, is geen ander lewensverlies tot dusver aangemeld nie. Verskeie mense is egter beseer in verskeie ongelukke oor die hele stad.

Pieterse het ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te ry op die nat paaie, en om in geen omstandighede ʼn pad oor te steek of te gebruik as die grondoppervlak nie sigbaar is nie.

Hy het gewaarsku dat die vloede moontlik nog lank kan voortduur met swaar reën wat steeds val en vir nog ʼn week voorspel word.

Die Tshwane-nooddienste is sedert Dinsdag op ʼn hoëgereedheidsgrondslag geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku het dat swaar reënval moontlik kitsvloede in Pretoria kan veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DPJ ·

Mense steur hulle net eenvoudig nie aan waarskuwings nie.
Ry eder ‘n draai om hindernisse en kom ‘n uur laat as om glad nie daaruit tekom nie. 99% van bestuurder het selfone en kan laat weet dat hy nie betyds sal wees vir ‘n afspraak nie.
Veiligheid eerste!

Frederik ·

Ek het 16 jaar gelede in Pretoria gebly en toe al sou die laagwaterbrug in Capital Park verander word na ‘n hoogwaterbrug. Die stadsraad is seker nog besig met die beplanning. Of het al die naamsveranderings die projek finansieël gekelder ?

Liewe Heksie ·

MAROELA is daar nie n manier dat julle vir ons n “like” kan aanbring by kommetaar nie

Martin ·

Ek het die voorval sien gebeur. Ek het die voertuig probeer stop maar hy het verby ons gejaag gekom en die water getref… seker so 30 sekondes later was die kar nie meer sigbaar nie. . .

GEMEENSKAPSLID ·

Goeie more. Nee die man is nog nie gevind nie. Die man het moontlik gedink julle wil hom kaap want hy was nuut in die omgewing (het onlangs van n ander dorp af daarnatoe getrek) en het nie geweet dat daardie brug oorspoel as dit so baie reen nie. Dit is baie hartseer. Baie sterkte aan sy familie.

smurfie ·

ons is ook nuut in die omgewing, in Vastfontein se kant. Ek hoop hulle vind hom gou. Ek is so bly ek het nie daai kant om gery nie en eerder aangehou tot soutpan. Asb laat weet my of ons ook kan kom hand by sit om te help soek.

Martin ·

Ek hoor wat jy se en dit maak ietwat sin… ek wens net rerg daar was iets meer wat ek kon doen om hom te red. Het probeer inhardloop om hom uit die kar te kry maar was te laat en te gevaarlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.