Man vermoor glo eksmeisie, neem eie lewe by Instituut vir Dowes

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Gewese student aan die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) op Worcester in die Wes-Kaap het vroeg Dinsdagoggend na bewering ʼn vrouestudent in haar koshuiskamer voor medestudente doodgesteek voordat hy sy eie lewe geneem het.

Cobus van Deventer, uitvoerende hoof van die NID, sê in ʼn mediaverklaring die vrouekoshuis van die instituut se opleidingsentrum was “volgens normale veiligheidsprosedures” gesluit, maar ʼn 23-jarige man het in die vroeë oggendure toegang verkry deur ʼn ruit in die ontspanningslokaal te breek.

Van daar is hy na ʼn 21-jarige student se kamer, waar hy haar na bewering om die lewe gebring het deur haar talle meswonde toe te dien. Daarna het hy sy eie lewe geneem. Van Deventer sê die gewese student het ʼn bedreiging vir die ander vyf vroue in die kamer ingehou.

“Die man was ʼn student aan NID Opleiding, maar het onlangs die kampus verlaat ná tugprosesse wat gevolg is,” sê Van Deventer. “Hy het na bewering die naweek by ʼn vriend op Worcester kom kuier.”

Van Deventer sê die motief vir die moord is nog onbekend, maar spruit blykbaar uit die feit dat hul verhouding beëindig is, vermoedelik deur die vrouestudent.

“Albei se ouers is reeds in kennis gestel en personeel en medestudente by die opleidingseenheid ontvang reeds traumaberading,” sê Van Deventer. “Ons NID-kampusgemeenskap is geskok deur die voorval en elkeen se hart gaan uit na die familie en vriende van die twee mense wat hul lewe verloor het.”

Lt.kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is ‘n tragiese gebeurtenis en so onnodig om tot sulke ernstige stappe oor te gaan van emosies.
Wens albei se families, vriende en kollegas alle simpatie en medelye toe en alle sterkte vorentoe.

Ronéll ·

Ai tog, dis tragies. Nou is TWEE families in rou gedompel. Als so onnodig. My innige meegevoel en simpatie aan die naasbestaandes.

Hoeveel keer het ons nie al hier gelees van mense wat hul ekse en/of hulself om die lewe bring oor hul verhouding gebreek het… Ek het volle begrip dat daar sterk emosies betrokke is, maar hemel weet, GAAN AAN met jou lewe, daar is baie visse in die see. G’n verhouding is moord/selfdood werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.