Man vermoor glo verloofde se dogter

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn 45-jarige man van Benoni aan die Oos-Rand is onder polisiebewaking in die hospitaal nadat hy vroeër vandeesweek na bewering sy verloofde se 21-jarige dogter vermoor het, sy verloofde met ʼn mes bygedam en toe probeer het om sy eie lewe te neem.

Kapt. Nomsa Sekele, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het glo in Kemstonlaan in die weste van Benoni plaasgevind.

Sekele sê die polisie is deur die verdagte se verloofde na die toneel ontbied. “Dit is nie in die stadium duidelik hoe die voorval afgespeel het nie. Daar word beweer dat daar ʼn rusie tussen die verdagte en die 21-jarige was en dat die meisie se ma tussenbeide probeer tree het,” sê sy.

Volgens Sekele het die verdagte daarna ʼn mes te voorskyn gebring en die twee vroue verskeie kere gesteek. Hy het daarna glo ʼn houer pille gedrink in ʼn poging om sy eie lewe te neem.

“Die verdagte se verloofde asook haar dogter het albei steekwonde aan hul bolywe gehad. Die dogter se wonde was egter meer ernstig, vandaar bewerings dat ʼn twis tussen haar en die verdagte ontstaan het. Sy is op die toneel dood. Haar ma en die verdagte is by aankoms van nooddienste op die toneel na die hospitaal gehaas,” sê sy.

Sekele sê die 45-jarige verdagte was glo ten tyde van die voorval uit op parool vir ʼn vorige moord waarvoor hy reeds ʼn gedeelte van sy vonnis uitgedien het. Sy het nie meer inligting oor dié moord gehad nie.

Sekele sê die ma en die verdagte is beide in ʼn stabiele toestand in die hospitaal. Volgens haar sal die verdagte in die hof verskyn sodra hy ontslaan word. Aanklagte van moord en poging tot moord staar hom in die gesig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pop ·

Uit op parool na vorige moord????Die regering se tronke is te min vir al die misdadigers, so nou sit hulle net rukkie dan moet dit plek maak vir volgende een.

GM ·

Weereens ‘n bewys dat rehabilitasie-programme selde werk. Hoe word ‘n moordenaar op parool vrygelaat?

Wonder ·

Ek wonder nou, as die verkeersdepartement nou die howe kan oor neem , sal daar seker minder moorde wees. Hulle vat mos die dronkbestuurders en haagduiwels “vas”. Dus sal moordenaars ook vas gevat word? Moordenaars kom skotvry en motorbestuurders, word gepynig.

tamboti ·

Die woord parool behoort verander te word na roekelose en nalatige loslaat uit tronkstraf – bietjie lank so kom ons maak dit: renluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.