Man vermoor ma van sy kind

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

’n Man is vandeesweek 20 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op die ma van sy vierjarige kind.

Jabulane Vusi Mhaule (29) is Woensdag in die hooggeregshof in Mpumalanga gevonnis, nadat hy skuldig gepleit het op die moord op sy voormalige vriendin in 2018.

Monica Nyuswa, provinsiale woordvoerder van die direkteur van Nasionale Vervolging, sê in ’n verklaring Mhaule het in sy pleitooreenkoms verduidelik dat hy en die oorledene sowat sewe jaar lank in ’n liefdesverhouding was.

Die paartjie het gedurende hierdie tyd saam in KaBokweni, sowat 28 km van Nelspruit, gewoon waar hulle hul kind saam grootgemaak het. Die verhouding het egter mettertyd versuur, waarna die vriendin die verhouding beëindig en uitgetrek het.

Volgens Nyuswa het die oorledene egter sowat twee maande nadat hulle uitgemaak het na die huis teruggekeer om van haar skoene te gaan haal, toe ’n hewige stryery tussen die twee partye uitgebreek het.

Luidens die pleitooreenkoms het Mhaule gedurende die stryery die slagoffer verskeie kere met ’n panga oor die kop geslaan. Sy het later aan haar beserings beswyk. Mhaule het hom kort daarna aan die polisie oorgegee.

Adv. Derrick Mashego vir die staat het ter verswarende omstandighede in die hof gesê Mhaule behoort ’n swaar vonnis opgelê te word aangesien hy ’n ernstige misdaad gepleeg het – die euwel van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika waartydens vroue deur hul lewensmaats vermoor word.

Mashego het aangevoer dat Mhaule ontrou was en om dié rede sy voormalige vriendin vermoor het.

Die waarnemende regter het in die hof gesê die misdaad was ongetwyfeld geslagsbaseerde geweld. “Die gemeenskap verdien dit om in ’n beter wêreld te leef. ’n Wêreld waarin ’n vrou ’n verhouding kan verbreek sonder om vir haar lewe te vrees,” het regter Takalani Ratshibvumo gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bloedhond

Die berig is puik geskryf en gaan my geen slaapelose nagte gee nie.

Cherokee

Die staat behoort te appelleer teen die oormatig ligte vonnis.

Pieter J

Ek wonder hoekom was haar lewe net 20 jaar werd.

Sarel

20 jaar = Borg na ongeveer 10jr. Kind moet sonder na groot word. Wat se tiekoms is daar?