Man verongeluk kort ná ma se moord

(Argieffoto: Hansie Linde)

ʼn 26-jarige man van die Kwanobuhle-nedersetting, Oos-Kaap, het verongeluk, oomblikke ná hy sy ma na bewering vermoor het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Siya Tshem Maandag omstreeks 02:00 glo sy 72-jarige ma in ʼn huis in Kwanobuhle doodgeslaan.

“Nozipho Tshem het na bewering in die sitkamer van haar oorlede dogter se huis geslaap toe Siya (haar seun) die kamer binnekom. Daar word beweer dat daar ʼn herrie tussen hulle losgebars het. Tshem is herhaaldelik met ʼn hamer op haar kop geslaan,” sê Naidu.

Tshem het op die toneel aan haar beserings beswyk. Siya het weggehardloop.

“Die familielede het na die polisiestasie gegaan en die voorval aangemeld. Die motief vir die wrede aanval en moord is nog nie bekend nie. ʼn Moordsaak is geopen.”

Terwyl die polisie nog op die toneel was, is daar ʼn klag van strafbare manslag in Matanzimastraat (Kwanobuhle-hoofweg) aangemeld. Die bestuurder van ʼn Volkswagen Polo het hom na bewering omstreeks 04:30 by die polisiestasie aangemeld en die polisie ingelig dat hy ʼn persoon gestamp het.

“Toe die polisie by die toneel aankom, het hulle ʼn man in die pad aangetref. Hy is dood voordat hy enige mediese hulp ontvang het. Die oorledene is later geïdentifiseer as Siya, Nozipho se seun en ook ʼn verdagte in haar moordsaak.”

Die saak van strafbare manslag word tans ondersoek.

Nozipho én haar seun woon eintlik in Kaapstad en het vroeër vandeesmaand die begrafnis van haar dogter bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mickey ·

dus sad…. wat besiel kinders om hul ouers dood te maak. Eer jou vader en jou moeder …

Swerwer ·

Die blinde sambok het hard geslaan. Hoe op aarde kan jy jou eie moeder so wreeddadig vermoor.
Innige meegevoel aan die dogter en haar familie met die dood van hul moeder. Dit moet vreeslike trauma wees waain die dogter en haar familie hul nou bevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.