Man verrinneweer glo vrou, hond uit woede

WAARSKUWING: Die berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Rusty se linkeroog het heeltemal uit die oogkas gehang (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

“Hy het net aangehou om vir Rusty te skop en te slaan. Ek het geskree dat hy moet ophou, maar hy wou nie.”

Só vertel ʼn honde-eienaar van Batho in Bloemfontein nadat haar vriend haar hond, Rusty, glo erg vermink het toe hy haar teen die man wou beskerm.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in die stad het Saterdag ʼn oproep ontvang van die eienaar, wat gevra het om anoniem te bly, oor Rusty wat deur haar vriend mishandel is. Sy het aanvanklik ʼn anonieme oproep aan die DBV gemaak omdat sy die mishandeling van haar troeteldier nie langer kon verduur nie.

By die DBV-inspekteurs se aankoms by die huis het hulle Rusty in ʼn hok aangetref. Rusty het met sy rug na hulle gelê en aanvanklik kon die inspekteurs nie fout sien nie.

“Toe ons naderkom, het hy sy stert begin swaai en sy kop na ons gedraai. Ons was heeltemal geskok oor wat ons gesien het. Sy linkeroog het heeltemal uit die oogkas gehang,” vertel Duán Matthee, ʼn inspekteur van die DBV.

“Ons het na die huis gestap en onmiddellik die eienaar oor Rusty se toestand gekonfronteer. Ons was onder die indruk dat sy te bang was om vir ons te vertel wat werklik gebeur het. Sy het hakkelend gesê dat ons moet terugstap na Rusty se hok toe sodat sy daar met ons kan praat.”

Matthee vertel toe hulle by die hok aankom, het die vrou aanhoudend oor haar skouer, in die rigting van die huis, gekyk. Sy het begin huil en die merke op haar eie arms en bene vir die inspekteurs gewys. Sy het ook steke aan haar bo-arm gehad.

Die vrou het aan die inspekteurs gesê dat haar vriend oor naweke drink en wanneer hy dan terugkeer huis toe en ongelukkig is oor iets, hy sy frustrasies op haar uithaal.

Sy het verder gesê dat haar vriend die vorige naweek kwaad was en haar aangerand het. Rusty het haar glo tydens dié voorval probeer beskerm, waarna die man glo sy woede op die hond gerig het.

“Hy het [volgens die vrou] Rusty begin slaan en skop, asof hy niks was nie. Die vrou het hom probeer stop, maar hy het net aangehou. Sy sê sy was bang dat hy Rusty sou doodmaak. Toe sy Rusty wou help, het hy haar weer geslaan en weggestamp. Met daardie slag het sy haar balans verloor, hard geval en haar kop gestamp.”

Die vriend het Rusty glo al vantevore op die kop en bors geskop en in die tuin rondgegooi. Dit is nie duidelik presies hoe die hond se oog so erg beseer is nie.

Volgens Matthee het die trane geloop terwyl die vrou vertel het hoe weerloos sy gevoel het.

“Ek kon haar pyn voel.”

Sy het nog nie die polisie van die mishandeling verwittig nie, omdat sy na bewering te bang is dat haar vriend haar sou doodmaak. Matthee het aan haar gesê dat sy die DBV en die polisie al lankal om hulp moes nader en dat hulle haar sal help om ʼn saak teen hom aanhangig te maak.

“Ons het ook aan haar verduidelik dat ons ʼn saak van dieremishandeling teen die vriend aanhangig gaan maak.”

Die vrou sê sy bly meestal tuis om haar kneusplekke en wonde te probeer wegsteek.

Rusty se heup is gebreek (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

Sy het intussen besluit om terug te trek na haar gesin wat in ʼn ander provinsie woon. Volgens haar sal sy nie vir Rusty kan saamneem nie en het sy die hond aan die DBV gegee sodat hy elders ʼn beter heenkome kan vind.

Rusty is in hierdie stadium steeds in die DBV se sorg. Hy het talle beserings opgedoen. Behalwe vir sy verminkte oog het hy ʼn skeur onder sy bek en talle kneusplekke op sy lyf. Hy kan ook skaars loop.

“Ek moes hom na die voertuig toe dra omdat ek kon sien dat hy in geweldige pyn is. Ek glo vas dat hy ʼn tweede kans op ʼn beter lewe verdien.”

X-strale het intussen gewys dat Rusty ʼn gebreekte heup het en ʼn operasie daarvoor benodig. Sy oog sal ook verwyder moet word. Hy ondergaan vandag reeds die operasie en sal sodra hy aangesterk het, verdere behandeling moet kry.

“Geslagsgeweld is oral om ons en soms, soos in hierdie geval, is daar onskuldige diere betrokke. Geslagsgeweld en dieremishandeling moet einde kry. Te veel mense en diere ly aan die hand van mense wat dink hulle is beter as ander. Hierdie boosdoeners moet aan die pen ry,” het Matthee gesê.

Die DBV het die publiek vir skenings gevra om Rusty se mediese behandeling en operasies, wat nagenoeg R15 000 gaan beloop, te help betaal. Klik hier vir meer inligting oor hoe om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerneels

Ek is fisies naar van hierdie artikel.

Probeer verstaan

Gooi hom in die tronk en sy werk elke dag sal wees om honde hokke te skrop elke dag by die DBV dat die honde skoon kan slaap elke aand.

Andre

Die arme hondjie.Hoe kan enige iemand ‘n dier so seer maak ? Gelukkig is hy nou erens waar hy veilig is en waar hy nie meer gaan seer hê nie.Dankie DBV.

Annatjie

Hoekom word hierdie mense se name nie genoem nie waarom word geweldenaars en skelm beskerm. Hierdie berig beteken niks as ons nie weet wie hierdie mense is nie. Name en shame hulle sodat die malheid kan ophou asseblief

Daboo

My magtig..” ‘N VRIEND”… Niks sal verander as die naam weerhou word. Name them and shame them.
Hoeveel ander diere en vrouens het hy al mee gemors en weggekom!