ʼn Man wat van Dubai in Suid-Afrika aangekom het, is by die King Shaka-lughawe in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, omdat hy glo goud onder sy klere versteek het.
Sandile Memela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê die man is deur doeanebeamptes deursoek waarna daar op 48 goudstawe met ‘n gewig van 5,6kg beslag gelê is. Volgens Memela het die goud ʼn waarde van sowat R3 miljoen.
Memela het gesê die man het ʼn koerta aangehad en die goud was in die sakke van die klere wat hy onder die gewaad aangehad het, versteek. Die verdagte het nog nie in die hof verskyn nie en die saak word ondersoek.
In ʼn ander onverwante saak, het doeanebeamptes op ʼn pakkie uit Nederland, wat bestem was vir ʼn adres in Durban, beslag gelê. Die pakkie het bestaan uit ʼn aantal kleiner pakkies, wat by nadere ondersoek Ecstacy-tablette bevat het.
“Die tablette het ʼn totale gewig van 1,8kg en ʼn straatwaarde van R310 000,” het Memela gesê. Dié vonds is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig.