Man vir ‘brutale, genadelose moord’ gevonnis

Mortimer Saunders. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Kaapstad het die veroordeelde kindermoordenaar Mortimer Saunders twee maal lewenslank tronk toe gestuur. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Saunders, wat in November skuldig bevind is aan die moord op die driejarige Courtney Pieters, is in Mei 2017 in hegtenis geneem nadat Pieters se liggaam in die Epping-nywerheidsgebied gevind is, nege dae nadat sy laas by haar huis in Elsiesrivier gesien is.

Saunders het ontken dat hy die meisie voor haar dood verkrag het. Hy het beweer dat sy dood is nadat hy haar miergif ingegee het omdat sy hom gepla het in die huis wat hy met haar en haar gesin gedeel het.

Pieters se moord het skokgolwe deur die gemeenskap van Elsiesrivier en die res van die land gestuur.

Courtney Pieters.

Regter Babalwa Mantame het begin November tydens die lewering van die uitspraak gesê forensiese bewyse dui daarop dat Pieters wel deur Mortimer verkrag is voordat sy dood is.

Mantame het dit tydens die uitspraak duidelik gemaak dat Saunders skuldig is aan moord met voorbedagte rade aangesien hy geweet het wat die uitwerking van die gif sou wees voordat hy dit vir Courtney ingegee het.

Mantame het gesê wat Saunders gedoen het, was een van die “mees brutale, genadelose en wrede dinge wat hierdie hof ooit gesien het”.

Die regter het toegegee Saunders het moontlik kwade gevoelens gehad jeens Courtney se ma, Juanita Pieters, maar gesê dit bied geensins regverdiging daarvoor om Courtney te vergiftig net om wraak op haar ma te neem nie.

“Die misdade wat gepleeg is, was om oneerbare en selfsugtige redes. Dit was ʼn pynlike, hartverskeurende en folterende ervaring vir die oorledene. Dit kan aan haar beserings gesien word.”

Lees alle vorige berigte oor Courtney Pieters op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Santjie ·

Waarom die vonnisse gelyklopend uitdien? Gelukkig is ek nie ‘n regter nie

Cherokee ·

Santjie, ek het telkemale daardie vraag gevra en tot nog nooit het iemand eers ‘n antwoord gepoog nie.

Abe ·

Cherokee en Santjie,
Die gelyklopende uitdiening van vonisse is ‘n ou beginsel van ons Romeins-Hollandse strafregstelsel. Dit stel ‘n protokol daar waar voorsittende beamptes (regters en landroste) nie maklik van afwyk nie. Om ‘n dubbele vonnis gelyklopend uit te dien, is nie noodwendig ‘n ligter straf nie, dit kan later in die gevangene se tronklewe swaar teen hom tel, bv. Wanneer hy vir afslag of parool oorweeg word.

Magda ·

Ek dink Maroela het dit verkeerd. RSG het uitdruklik gesê die vonnisse Sal nie gelyklopend uitgedien word Nie??? Maroela bevestig ASB?

Alida ·

Dit is in sulke gevalle waar die doodstraf goed te pas sou wees. Maar nou ja.

Al ·

Stem absoluut saam met jou. Ons belastingbetalers moet nou sorg vir sy kos en bed en gesondheid.
Wat my opval, die EFF en ANC skitter in hul afwesigheid by die hof.
Nou ja, nie alle beskuldigdes en slagoffers is ewe belangrik by hulle nie.

Al ·

Stem absoluut saam met jou. Ons belastingbetalers moet nou sorg vir sy kos en bed en gesondheid.
Wat my opval, die EFF en ANC skitter in hul afwesigheid by die hof.
Nou ja, nie alle beskuldigdes en slagoffers is ewe belangrik by hulle nie.

Sarie ·

Volgens die artikel word die vonnisse gelyklopend uitgedien, maar volgens eNuus op KykNtHD kanaal 144 word die vonnisse na mekaar uitgedien. Wie is reg?

Johan H. ·

Ja die nuus se hy sal sit vir effektief 50 jaar. Dit gaan ons kos! @ +- R400 per dag,x356x50, sonder verhogings… maak daaie som!!!!

Fielies ·

Jippie, nog enetjie wat ek voor gaan sorg vir die res van my belasting betaling leeftyd.

Anti-Negatief ·

‘n Gepaste vonnis, alhoewel doodstraf meer gepas sou wees…..

Magda ·

Maroela jul feite oor die vonnisse uitdiening is verkeerd. Stel ASB reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.