Man vir ure lank aan bed vasgebind ná aanval

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Hegte familie het hulself vyf maande gelede in George in die Wes-Kaap gaan vestig om onder meer van Gauteng se misdaad weg te kom, net om oor die naweek ʼn tweede traumatiese voorval aan die hand van aanvallers te beleef.

Johannes Geyer (36) was vir 36 uur lank aan ʼn bedpoot vasgebind. Hy is ʼn verkoopsman en woon en werk by sy tannie en oom, Liesel en Paul Smith. Johannes het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy het die afgelope drie weke die nuwe huis in George opgepas terwyl sy tannie en oom vakansie hou in die Krugerwildtuin.

“Ek het Vrydag by die huis gekom en aandete gemaak. Ek het televisie gekyk en omtrent 22:00 gaan slaap. ʼn Uur later het ek ʼn geraas gehoor en gaan ondersoek instel,” het Johannes gesê.

Hy het ʼn skaduwee in een van die vertrekke gesien en toe hy verby ʼn kamer stap, het iemand hom daar ingewag, oorrompel en oor die kop geslaan. “Ek was dadelik uit soos kers.”

Johannes het die volgende dag wakker geword. Hy het geen idee gehad hoe laat dit was nie en weet net dit was al dag. Hy kon nie beweeg nie. Hy het op die grond gelê met sy hande en voete agter sy rug aan ʼn bedpoot vasgebind. ʼn Kous was in sy mond gedruk en met ʼn lap vasgebind.

“Ek kon in ʼn stadium mense buite die huis hoor, maar ek kon nie om hulp roep nie. Ek het probeer loskom, maar hoe meer ek geworstel het, hoe stywer het die bande getrek en hoe seerder het dit geraak. Ek het naderhand moed opgegee en net stil gelê, want alles, van my kop tot my tone, was seer.”

Johannes het gesê hy het in die ure wat hy daar hulpeloos en wakker gelê het, die heeltyd gedink hoe hy gaan loskom en of iemand hom ooit gaan kry. Hy was honger en dors en het later weer van uitputting bewussyn verloor.

Die volgende wat hy onthou is mense wat tot sy redding gekom het. Die polisie het hom bygestaan en paramedici ontbied, wat hom ondersoek het. Hy was erg gedehidreer en getraumatiseerd en het vir water gevra. ʼn Vrou het kort daarna vir hom kos, koeldrank en ʼn pakkie sigarette gebring. Hy het hospitalisering van die hand gewys.

“ʼn Mens raak sommer moedeloos. Ons het juis van Gauteng na George verhuis om van misdaad te probeer wegkom, dan gebeur dit wanneer mens skaars van jou vorige aanval vergeet het.”

Volgens Johannes is hy en sy tannie sowat twee jaar gelede in Elarduspark, in die ooste van Pretoria, deur twee mans aangeval, wat hulle probeer beroof het. “Dit was helder oordag en hulle het ons buite die huis genader en aangeval. Hulle het my met ʼn baksteen teen my kop gegooi en weggehardloop sonder om iets te steel.” Johannes het hul aanvallers agternagesit en met die hulp van die gemeenskap albei vasgetrek. Een verdagte is in aanhouding dood en die ander een is gevonnis tot tronkstraf.

Hy vermoed daar was minstens twee of meer mans by die jongste voorval betrokke, want hy weet hy het een se skaduwee gesien terwyl die ander man hom ingewag het. Die verdagtes het toegang tot die huis gekry deur die skuifdeur uit sy spoor te lig. Hulle het die huis geplunder en elektroniese ware, klere, beddegoed en kontant gesteel. Hulle het Johannes se selfoon gevat, maar dit het in die erf geval en gebreek toe die verdagtes op die vlug geslaan het.

Liesel het aan Maroela Media gesê sy het Saterdag 11:00 al onraad vermoed. “Ek en Johannes praat elke oggend op WhatsApp. Hy het nie die oggend soos gewoonlik gegroet nie. Hy het ook nie by die werk opgedaag nie, wat baie ongewoon is vir hom,” het Liesel gesê.

Sy het hom herhaaldelik regdeur die dag probeer bel, maar nie in die hande gekry nie. Sy het uit bekommernis een van haar werkers gevra om na die huis te gaan en te kyk of Johannes daar is. “Die werker kon net die honde hoor en Johannes se motor het buite gestaan, maar daar was geen teken van hom nie.”

Sy het haar vriendin die aand gebel, wat ook geen teken van Johannes by die huis kon kry nie. Liesel het haar gevra om die deur oop te breek, maar een van hul honde, ʼn bulterriër, was ʼn bedreiging en hulle het besluit om tot die volgende dag te wag.

“Sy was Sondag om 06:00 weer daar. Johannes se motor het nog op dieselfde plek gestaan. Sy kon weer die honde hoor, maar daar was geen teken van hom nie.”

Liesel het toe besluit om met die hulp van die nooddiensverskaffer, Crisis-On-Call, ʼn slotmaker te ontbied. Die slotmaker het tussen 10:00 en 11:00 op Johannes afgekom en hulp ontbied.

Die Smit-egpaar was toe reeds oppad terug George toe. “Toe hulle bel en sê wat gebeur het, moes ek stop en uitklim. Ek was geskok, emosioneel en vol adrenalien. Ek het die hele pad huis toe gehuil en soveel goed het deur my gedagtes gegaan. Crisis-on-Call het gereël dat ʼn berader my deurentyd telefonies bystaan en hulle het ook gereël dat Johannes berading ontvang. Ek het seker tien ure aaneen gehuil en dit was nie lekker om weer deur alles te gaan nie. Ek het net die heeltyd die Here gedank dat Johannes veilig is.”

Die familie is Sondagaand omstreeks 19:00 weer herenig.

Liesel is vol lof vir die polisie, ambulansdienste en Crisis-On-Call. Sy het ook haar dank teenoor haar vriendin, haar bure en die slotmaker uitgespreek.

“Ek kan nie genoeg dankie se aan almal se hulp nie. ʼn Mens voel so magteloos as iets gebeur en jy is so ver om niks daaraan te kan doen nie,” het sy gesê.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die George-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort,” het Pojie gesê. Hy het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat die speurders in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan die speurtak bel by 044 803 4715 of 0860 10111.

  • Johannes en Liesel wil uit vrees vir intimidasie nie hul foto’s in die media hê

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Monica ·

Ja bly maar weg van die wes kaap, ons loop erg deur onder die misdaad. Ek het self al 3 inbrake gehad sedert November, en ek het alarmstelsel en gewapende reaksie. Dit keer hulle nie! Hulle breek jou vensters uit, gryp jou besittings en hardloop! Ek het nie eers meer ‘n televisiestel nie, tot my kat se kos word gesteel! Dit is erg traumaties! Ek het geen berading ontvang nie, hulle het gesê ek moet suikerwater drink. Nou bewe ek permanent en het baie angs en my gemoed is baie af.

Muysvogel ·

Nee Monica, jy slaan die bal heeltemal mis met jou stelling, “bly maar weg van die Wes-Kaap” Vir meer as 60 jaar is ek ‘n inwoner van die provinsie, waarvan 33 jaar aan die Weskus is en ek kan jou verseker dit hang af WAAR jy jou in die Wes-Kaap bevind.
Ek het ook 5 jr op ‘n baie bekende Bolandse dorp gebly waartydens skurke 5 keer by ons ingebreek het en het toe na die vyfde inbraak besluit om terug te keer na die Weskus waar ons nou gelukkig woon sedert 2004

Irene ·

In die hele suid afrika is jy beslis nie veilig nie hulle is gesaai net waar jy kom

Takkie Takuuza ·

Ek wonder hoekom ‘n slotmaker kry as die skuifdeur uit sy spoor gelig is. Miskien het hulle nie gesien nie.

Cherokee ·

En ek wonder waarom die bullterrier vir die vriendin ‘n bedreiging was maar nie vir die inbreker(s) nie. Miskien het hy hulle nie gesien nie.

Wat-ek-lees ·

Jy is reg Cherokee oor die terriër. Moet egter nooit ooit sommer gaan ondersoek instel want jy kan seker wees dat hulle jou gaan inwag soos wat ook hier gebeur het. Bly eerder waar jy is selfs as jy gewapen is en wag vir hulle.

Tina du Toit ·

Glo my, van misdaad sal jy nooit ontslae raak nie. Jy kan maan toe trek ook en daar sal misdaad wees. En die slegste van alles is jy kom nie oor die aanval nie, maak nie saak of jy lewendig daaruit gestap het nie, jy kan God dank, maar jou hele lewe is verwoes en leef jy in vrees. As jy terug kyk na hoe jy jou lewe geniet het en hoe jy nou moet leef, kan mens nie help om hulle te haat nie.

Sarkastiese Sarel ·

Solank mens hulle net nie meer haat as wat nodig is nie..

Anti afrikaner ·

Die misdaad is baie oral dis ‘n feit,nog ‘n feit is hoe bang die ou volkie geword het ,bang om terug te veg ,bang om hulle fotos te publiseer bang om die bedelaar by die robot in die oë te kyk bang vir alles en dit is hoekom ons slagoffers geword het in die land van ons geboorte.

Oupa Hen ·

Dankie tog hy het basies ongedeerd daarvan afgekom. Dink net wat sou gebeur het as sy vrou by was.

Gesiggie ·

Ja dit is skrikwekkend… maar dit is die Nuwe S.A Crime is oral, en die huise word dop gehou, So bly dat Johannes darem nie te erg aangerand is… dit moes vreeslik gewees het om so weerloos te voel… wat kan jy doen? dit is n baie goeie ding om elke dag met iemand in verbinding te wees, ek doen dit met my kinders, so as hul niks van my hoor, dan bel hul vinnig, om te vra of daar fout is… bly in kontak met iemand… Sterkte Johannes, hoop jy herstel gou.

Fran ·

Eks nou nie snaaks nie maar iets klink nie vir my heeltemal reg nie..

nella ·

Ek stem… Iets is nie lekker hier nie. En…….. Hoe sit jy iemand agterna wat jou met n baksteen teen die kop gegooi het? Bly Johannes is darem ok.

oni ·

Moet daar altyd na n dooie rot gesoek word. Lyk regtig of hier mense heeldag sit om net n punt van negatiwiteit te soek onder n vergrootglas.

hercules ·

dankie oni * mense praat so gou en dan was hulle nie eens op die toneel nie * groot probleem van sommige suid afrikaners!!

Donovan ·

Ons word vas gevang in vrees… Baklei terug jy sal sien die duiwel sal van jou vlug… Jammer vir die war se dat crime oral is… ek stem nie saam nie, weens my werk reis ek baie en daar is lande soos Spanje en China wat jy vrylik rond kan loop…

Marianne ·

Miskien omdat Suid Afrikaners nie meer oningelig, naief en stupid is nie. We have seen it all. Lesse pas weer geleer met die Parys saak. Moenie ons mense onderskat nie. Ons almal weet daars n probleem, maar ons almal weet ook daar is probleem mense. Die berig klink vir my soos n advertensie in elk geval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.