Man voor sy onderneming gegryp

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die polisie in die Wes-Kaap is op soek na ʼn sakeman wat Woensdagoggend voor sy onderneming ontvoer is.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die Wes-Kaapse eenheid vir georganiseerde misdaad is nog besig om die omstandighede omtrent die man se ontvoering uit te pluis.

Die 69-jarige sakeman was glo om 11:00 besig om voor sy onderneming in Joubertstraat in Parow te parkeer toe twee mans hom genader het.

“Die gewapende mans het na bewering uit ʼn Audi Q7 gespring en die sakeman gegryp,” sê Van Wyk.

Die slagoffer is glo in die motor geboender voordat die vermeende ontvoerders saam met hom van die toneel gevlug het. Die motor het glo in die rigting van De La Rey-weg gery.

ʼn Saak van ontvoering is intussen by die Parow-polisiestasie aanhangig gemaak.

Dit is nog nie duidelik of die man se familie al deur die ontvoerders gekontak is nie.

Van Dyk het die publiek aangemoedig om die polisie te kontak indien hulle enige inligting oor die voorval het.

“Al die inligting sal vertroulik hanteer word,” het hy verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.