Man voor vrou vermoor; twee in hof

misdaadtoneel

Argieffoto

Twee mans het Dinsdag in ʼn KwaZulu-Natalse landdroshof verskyn nadat ʼn egpaar twee weke gelede in hul huis in Hibberdene aangeval en die man ten aanskoue van sy vrou met ʼn skerp voorwerp doodgesteek is.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê Johannes Petrus Kleynhans (65) en sy vrou was op 30 Julie omstreeks 19:45 besig om in hul huis televisie te kyk toe hulle deur drie aanvallers oorval is. Die aanvallers het ʼn venster stukkend geslaan om toegang tot die huis te verkry.

“[Kleynhans] het probeer om sy vrou te beskerm en het teen die verdagtes baklei, maar hy is verskeie kere gesteek. Sy vrou het ook steekwonde opgedoen toe sy probeer het om haar man te help,” het Mbhele gesê.

Die aanvallers het met ʼn televisie en ʼn selfoon gevlug.

Die polisie se ondersoek het daartoe gelei dat ʼn 18-jarige verdagte Saterdag omstreeks 10:00 in die Hibberdene-sakesentrum in hegtenis geneem is. Maandagaand het ʼn tweede verdagte (27) hom aan die Hibberdene-polisie oorgegee. “Verdere ondersoek het daartoe gelei dat die gesteelde items teruggevind is,” het Mbhele gesê.

Sy het gesê die twee verdagtes het vandag op aanklagte van moord en poging tot moord in die hof verskyn. Mbhele kon nie onmiddellik bevestig wat tydens die hofverrigtinge gebeur het nie.

ʼn Derde verdagte is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.