Man vra nie borgtog ná vrou se brand-dood

Stephan Pretorius in die landdroshof in Pretoria-Noord (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Stephan Pretorius (38) wat aangekla word van die moord op sy vrou nadat hy glo petrol oor haar uitgegooi en haar daarna aan die brand gesteek het, gaan nie om borgtog aansoek doen nie.

Só het Harry Ramatshimbila, sy regsverteenwoordiger, Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord aangedui. Hy het nie ʼn rede vir dié besluit gegee nie.

Stephan staan tereg vir die moord op Charlene Pretorius (42).

Die saak is tot 17 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Die nadoodse ondersoek en verklarings van ses getuies is nog uitstaande.

Jason Venter en Shanie Koen, Charlene se kinders, was saam met hul biologiese pa, Fanie Koen, en ʼn jare lange vriend, Ian Manuel, in die hof.

Stephan het weer emosieloos in die beskuldigdebank gestaan.

“Dit is moeilik om hom [Stephan] in die hof te sien. Die kwade gevoelens vlam elke keer van voor af op,” het Jason ná afloop van die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê.

Charlene se kinders, Shanie Koen (middel links) en Jason Venter, saam met hul biologiese pa, Fanie (middel regs) en jarelange vriend, Ian Manuel (regs) (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Roudiens vir Charlene is Saterdag in Grobbelaars Begrafnisdienste se kapel in Riviera, Pretoria-Noord, gehou. Sy is veras.

“Ons wil nie my ma begrawe in die verminkte toestand waarin sy nou is nie,” het Jason vroeër gesê.

In die begrafnisbrief was huldeblyke van vriende en familie aan Charlene.

“My hart is seer. Hoe neem mens afskeid wanneer die tyd so min was? Jy is te vroeg van ons weggeneem. Mens is nooit gereed vir sulke dinge nie,” skryf Angelique.

“Ons harte is seer, ons het jou gefaal, almal wat jou ken, wou so graag nader aan jou leef, almal wou met jou maatjies wees, maar dit was moeilik … Ons kon jou nie genoeg beskerm nie … Jy het nog soveel drome en planne gehad vir die toekoms, en dit is jou ontneem, maar ons vind troos daarin dat jy nou verlos is van alle pyn en hartseer,” skryf Fenners.

Charlene se begrafnisbrief (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig Stephan het na bewering op 27 Mei omstreeks 14:00 buite sy gesin se huis in Britsweg in Pretoria-Noord petrol oor Charlene uitgegooi en haar aan die brand gesteek.

Stephan se ouers en suster het volgens die polisie vanuit die huis vir Charlene hoor gil en na buite gehardloop om die vlamme te probeer blus.

Charlene is daarna na die Steve Biko-hospitaal gehaas, waar sy ʼn dag later aan haar beserings beswyk het.

Stephan is kort daarna op die N1-snelweg tussen die Stormvoël- en Zambezi-tolhek vasgetrek nadat hy glo probeer vlug het.

Verbrokkelende huwelik

Shanie Koen en Jason Venter saam met hul pa, Fanie Koen (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die egpaar is op 4 November 2013, op Charlene se verjaarsdag, getroud. Hulle het ʼn 13-jarige dogter saam.

Charlene het vir Stephan op 14 April vanjaar om ʼn egskeiding gedagvaar.

Volgens die dagvaarding, wat Maroela Media onder oë gehad het, beweer Charlene die huwelik het so verbrokkel “dat daar geen redelike vooruitsig is om dit te herstel nie”.

In die dagvaarding word aangedui dat Charlene en Stephan sedert 7 Februarie vanjaar van bed en tafel geskei was weens “fisieke aanranding”. Volgens die dagvaarding was die aanranding op bogenoemde dag so erg dat “die polisie genoop was om in te gryp om Charlene en haar dogter uit die huis te verwyder”.

Charlene het die dag daarna ʼn beskermingsbevel teen Stephan bekom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Yolandie ·

Nog ‘n vrou wat deur haar gade vermoor is, en waar die staat en gereg haar in die steek gelaat het en haar nie beskerm het nie. My hart gaan uit na haar kinders. Ek kan my nie indink hoe iemand so wreedagtig kon wees deur haar aan die brand te steek nie. Rus in vrede vrou, niemand kan jou nou meer seer maak nie.

Ronél ·

Bevestig weer waarom “happily single” die beste opsie is……………

Niklaas ·

Jou 2 de keuse moet net reg wees. Ek ken baie ongelukkige en eensame enkellopendes ook.

Tanya ·

Ek hoop ten volle dat haar kinders dit verder gaan vat, want die feit dat sy ‘n Beskermingsbevel in plek gehad het en sy nie veilig kon voel nie. Die Wet en Gereg (wat ookal dit beteken deesdae) moet opdok vir hierdie geval, alhoewel dit nie hulle Mamma sal terug bring nie, maar hopelik die varke 2 keer kan laat dink voordat hulle so ‘n bevel oorskry. Wat is die punt dan van so ‘n Bevel as dit dan eintlik net ‘n stukkie papier is!

Misky ·

Daar was ‘n beskermingsbevel inplek, maar die aanval gebeur toe sy buite sy familie se huis was. Daai bevel en afstand tussen twee partye wat bots is daar vir ‘n rede. So tragies en sterkte aan haar kinders.

Cora Corne ·

Dit is my familie waarvan mense so praat. Niemand weet wat regtig daar gebeur het en hoekom nie. Ek stel voor ons wag en kyk want daar is baie goed wat gaan uitkom* van beide families wat saam gewoon. Daar is nog verklarings uitstaande. I’m just saying there is much more to this case then anyone knows.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.