Man, vrou in hospitaal ná mikrovliegtuig neerstort

Die Mikrovliegtuig het by Rashoop buite Brits neergestort (Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit/Johan de Winnaar)

ʼn Man en vrou van Brits in Noordwes sterk in ʼn hospitaal aan nadat hulle vroeër dié week in ʼn mikrovliegtuigongeluk betrokke was.

Hugo Bieldt, ʼn Brits-inwoner en kranige mikrovliegtuig-vlieënier, sê die voorval het glo Vrydag net buite Brits plaasgevind.

Volgens Bieldt het die vliegtuigenjin kort ná opstyging onklaar geraak. “Ek het vanuit my huis gehoor dat iets baie vreemd klink met die enjin van die vliegtuig en besluit om buite te gaan ondersoek instel,” vertel hy.

“Die man, wat die vlieënier was, het maar oomblikke vroeër opgestyg en moes al baie hoër op in die lug gewees het as wat hy was, so ek het dadelik onraad vermoed. Dit was nie lank nie of die vliegtuig het agter die bome verdwyn en ek het ʼn harde slag gehoor.”

Die Mikrovliegtuig het by Rashoop buite Brits neergestort (Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit/Johan de Winnaar)

Met sy aankoms by die toneel waar die mikrovliegtuig neergeploeg het, was daar reeds ʼn groep mense wat die slagoffers te hulp gesnel het. Bieldt sê hy het die nooddienste onmiddellik ontbied.

“ʼn Noodlanding is wel moontlik met ʼn mikrovliegtuig, maar jy het baie spoed nodig,” sê hy. “In hierdie geval het die linkerkant se agterwiel ʼn trein-kraglyn getref wat veroorsaak het dat die mikrovliegtuig begin tol en toe neergestort het.”

Die vrou het na bewering ʼn sleutelbeen gebreek en die man het onder meer gebreekte ribbes en ʼn gebreekte pelvis opgedoen. Hulle is albei na die hospitaal gehaas en is tans buite gevaar.

Lugvaartowerhede het reeds ʼn ondersoek van stapel gestuur om vas te stel waarom die mikrovliegtuig se enjin onklaar geraak het.

Op sosiale media het baie mense die man en vrou as onderwysers van ʼn plaaslike skool in Brits uitgeken. Maroela Media kon nog nie dié inligting bevestig nie.

Hartbeespoort Emergency Rescue Unit het die voorval bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Kalahari ·

Wens hierdie 02 persone/kollegas alle sterkte toe tot herstel.

Snuffels ·

Die man is n bekwame ouditeur van brits hy was ook hoofseun van hoerskool brits. Hy het baie seergekry. Ons bid dat daar volkome herstel sal wees.

mini ·

ek onthou…. was in 2002 ook in mikroligte vlieg ongeluk, genade van Bo dat ek kan leef…… sterkte vir die twee, maar die vlieg en uitsig was fantasies

Anne-marie Barnard ·

Ons ken die vrou baie goed, ‘n Juffrou van Laerskool Olienpark. ‘n Juffrou met ‘n hart van goud wat ook baie lief is vir die kinders. Ons bid vir beide se volkome herstel en ook vir hulle baie sterkte aan die families.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.