Man vry ná vrou se moord; polisie gekap

court-hammer_thumbDie hooggeregshof in Pretoria het Woensdag Albert van Vuuren (45) se skuldigbevinding aan die moord op sy vrou ter syde gestel weens die polisie se versuim om die moord behoorlik te ondersoek.

Van Vuuren, ʼn drankwinkelbestuurder van Bronkhorstspruit, is in 2012 deur ‘n ander hof skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Monica. Regter Hans Fabricius het vandag in sy uitspraak uitgevaar teen die polisie.

“Dit is dikwels opvallend in die hof dat die polisie baie hulpbronne gebruik en moeite doen in sekere gevalle, terwyl ‘n saak soos die huidige een weinig aandag gekry het,” het Fabricius gesê. “In hierdie geval is dit ‘n hartseer weerspieëling van die polisiemag wat misluk het in hulle statutêre pligte.”

Monica was glo ʼn tingerige vrou en het in Julie 2010 in haar kombuis gesterf nadat sy 25 keer met ʼn mes gesteek is. Haar kakebeen en nek was ook gebreek.

ʼn Patoloog het bevind sy het gesterf weens ʼn rugbesering en steekwonde aan beide kante van haar bors wat haar hart binnegedring en veroorsaak het dat haar longe platval. Volgens die patoloog was dit ʼn pynlike dood. Sy is nog ses keer met die mes gesteek ná sy gesterf het.

Van Vuuren het tydens sy verhoor getuig dat hy die aand van sy vrou se moord ʼn kalmeermiddel saam met alkohol gedrink het en nie kan onthou wat gebeur het nie.

Die hof het egter Van Vuuren se vriend wat by die egpaar gewoon het, se getuienis as waarheid aanvaar. Gordon McCullum, die vriend, het tydens die verhoor getuig dat Van Vuuren daardie aand baie aggressief was en dat Van Vuuren hom glo later wakker gemaak het en om te sê hy het sy vrou vermoor.

Maar McCullum se eie baadjie was egter vol bloed en hy het glo vir die polisie gejok en gesê Van Vuuren het die baadjie aangehad. Hy het beweer hy het nie ʼn sleutel vir die huis gehad nie en kon nie verduidelik hoe R13 000 uit ʼn geslote kombuiskas verdwyn het, of wie probeer het om die toneel skoon te maak nadat die polisie die huis gesluit het nie.

McCullum het erken hy is bipolêr en word dus gereeld in psigiatriese hospitale opgeneem en dat hy gereeld ʼn groot hoeveelheid alkohol met sy voorskrifmedikasie meng.

Fabricius sê getuienis deur die staat se forensiese kenner en gesonde verstand sluit die waarskynlikheid dat Van Vuuren die beserings aan sy vrou toegedien het uit. Hy sê McCullum kan nie as ‘n betroubare getuie of mense beskryf word nie.

Die moordwapen is nooit gevind nie en die bloed op die mes in die kombuis was nie Monica se bloed nie.

Van Vuuren was uit op borg hangende die appèl maar het meer as ‘n jaar in aanhouding spandeer terwyl hy gewag het dat sy verhoor begin.

Lees ook:
Moord dalk nooit opgelos oor polisie se brouwerk
Man kry lewenslank vir moord op vrou
‘Ek is nie ‘n moordenaar’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Teleurgesteld ·

Nog n slagoffer van onse beroemde polisiewerk. Waar is die dae toe die waarheid kon seevier..

Andre ·

Dit is die prys wat ons moet betaal. Kundiges word misgekyk en van ontslae geraak. Die ANC bevestig hiermee hulle onvermoe om ‘n land te regeer en administreer

Heleen Cilliers ·

Ons het eerstehandse kennis van swak polisiewerk nadat my skoonpa in 2009, vermoor is op ons plaas in Bronkhorstpruit omgewing. Makliker om die naasbestaandes te verdink en aanhoudend te ondervra as om die moordtoneel ordentlik te ondersoek en die omgewing te fynkam. Tot nou toe nog niks weer gehoor van hulle nie

rika ·

Ja dis altyd die storie, die pille, my drank was gespike ens. Die nogal snaak hoe al die moordenaars die selfde taktiek gebruik. Moord, staf hul hard en gooi weg die sleutel. En die polisie wat help of nie hul werk behoorlik doen nie, gee hul die selfde straf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.