Man waarsku ander ná ‘nagmerrie ondervinding’

Bert-Louw Versveld en sy vrou, Lisa. (Foto: Verskaf)

Bert-Louw Versfeld en sy vrou, Lisa. (Foto: Verskaf)

“Baie mense dink dalk soos ek het, maar kyk wat het met my gebeur.”

Só sê Bert-Louw Versfeld, ʼn 27-jarige sakeman van Kaapstad, oor die traumatiese ervaring wat hy drie jaar gelede moes deurmaak toe malaria hom byna sy lewe gekos het. Dit is vandag internasionale malariadag en Versfeld is dankbaar dat hy die geleentheid het om ander te waarsku.

Luidens ʼn verklaring deur ER24 het Versfeld daarteen besluit om profilaktiese medisyne te drink as voorsorg teen malaria voordat hy in 2015 vir ʼn besoek van drie dae na Ghana vertrek het. Soos die meeste reisigers het Versfeld geglo dat niks verkeerd kan gaan in so ʼn kort tydperk nie.

“Ek het gedink dit is so ʼn vinnige besoek en ek wou nie so lank voor die tyd pille drink nie. Ek het nie gedink ek hoef die medikasie te neem as ek net vir ʼn naweek gaan nie. Ek het al wyd oor Afrika gereis en was veral voorheen in verskeie malariagebiede. Dit is nie asof dit my eerste besoek was nie,” het Versfeld gesê.

Hy kan die presiese datums van sy reis in 2015 goed onthou. “Ek kan dit doodeenvoudig nie vergeet nie. Ek was van die 5 tot 8 Januarie in Ghana. Ek was die 9de weer terug in Kaapstad, maar het eers op die 17de begin olik voel.”

Die vertraagde simptome is tipies van iemand wat met malaria besmet is. Die simptome verskyn slegs wanneer die parasiet die rooibloedselle in die liggaam begin infekteer. Dit gebeur gewoonlik tien tot 14 dae nadat die muskiet jou gebyt het.

Versfeld het griepsimptome ervaar en teen die 19de Januarie, terwyl hy by die werk was, het hy skielik baie sleg begin voel. “Ek is na my plaaslike dokter en het hom vertel van my reis na Ghana. Hy het my dadelik getoets vir malaria, die Ebola-virus en bosluiskoors. Ek is dieselfde middag sak en pak in die Mediclinic Durbanville opgeneem aangesien die dokter geglo het dit is malaria.”

Hy vertel hy kan onthou die dokter het deur die nag na sy hospitaalkamer gekom en het bevestig dit is malaria. “Later daardie nag het my toestand versleg en dokters het besluit om my in ʼn medies geïnduseerde koma te plaas.”

Versfeld se vrou, Lisa, het konstant langs sy bed gewaak en onthou hoe onwerklik die ondervinding gevoel het.

“Ons was onder die indruk hy het griep. Skielik, binne ʼn kwessie van ʼn paar dae, was hy in die hospitaal en kort daarna in ʼn koma. Ek het so hulpeloos gevoel en is nie ingelig oor wat presies besig was om met hom te gebeur nie. Ek het myself gevra hoe dit kon gebeur – hy is dan so jonk? Die hele ondervinding was onwerklik, maar ons het nooit ophou glo in sy herstel nie,” het Lisa gesê.

Versfeld het vier dae later wakker geword. “Ek was baie deurmekaar toe ek my oë vir die eerste keer oopmaak. Die eerste ding waaraan ek kon dink, was hoe dankbaar ek was dat ek kon wakker word en hoe kort die lewe is. Dit was ʼn baie moeilike tyd vir my hele familie. Dit neem ʼn nare ervaring soos dié om jou werklik te laat begryp hoe broos die lewe is.”

Hy is op 31 Januarie uit die waakeenheid oorgeplaas na ʼn private kamer en volgens Versfeld is dit eers hier waar die harde werk begin het.

“Ek moes begin met fisioterapie omdat ek te swak was en ek kon niks vir myself doen nie. Dit het gevoel asof ek weer sou moes leer loop,” vertel Versfeld.

Terwyl hy aan sy hospitaalbed gekluister was, het hy besluit om alles wat hy moontlik kon op te lees oor malaria, hetsy op die internet of in boeke.

“Ek het geweet van malaria, maar ek het nie gedink dit is so erg nie. Ek het geweet dit kan jou siek maak, maar ek het nie geglo dat daar noodlottige gevolge kan wees nie. Ek het ʼn hele aantal boeke gelees oor hoe om malaria te hanteer omdat ek my kennis daaroor wou verbreed en wou uitvind presies hoe naby aan die dood ek werklik was,” vertel Versfeld.

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) was malaria in 2016 verantwoordelik vir die dood van meer as 440 000 mense wêreldwyd.

Versfeld, wat intussen weer hoërisiko-lande besoek het, het nie opgehou om sy lewe voluit te leef nie, maar het geleer om versigtiger te wees voordat hy reis.

“Lees op oor die land wat jy gaan besoek,” gee hy raad. “Is daar enige risiko’s? Neem jou voorbehoedmedisyne en dra langmouklere wanneer jy buite is. Rus jouself toe met die nodige kennis. Dit neem ʼn ervaring soos dié om jou werklik dankbaar te maak vir die tweede kans.”

Die nasionale departement van gesondheid en ER24 bied aanbevelings oor hoe om jouself te beskerm teen muskietbyte en malaria wanneer jy na hoërisiko-lande reis:

  • Dra langmouklere wanneer jy buite is, veral in die aand.
  • Smeer insekweerder soos Peaceful Sleep, wat DEET (Diethyltoluamide) bevat, aan.
  • Slaap onder ʼn muskietnet wat met insekweerder behandel is.
  • Spuit insekweerder in die vertrek nadat jy die vensters en deure toegemaak het.
  • Neem slegs medikasie wat deur ʼn mediese dokter voorgeskryf is.
  • Neem die medikasie voordat jy die malariagebied betree.

Simptome van malaria sluit in koors, hoofpyn, kouekoors en spierpyn. Raadpleeg ʼn mediese dokter indien jy enige van die simptome ervaar en verwittig jou dokter van jou reisgeskiedenis. Vir meer inligting besoek www.rollbackmalaria.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anton Bester ·

Ek het verlede jaar in Suid Soedan gewerk,toe het n muskiet my gebyt. Ek was 3 dae in n koma 8 dae in ICU en 11 dae in die hospitaal. My longe en lewer het seer gekry. So die mense wat malaria gebied besoek,doen asb al die voorsorg want die lewe is kort. Ouers kyk agter jou kinders maak seker hulle is veilig. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie.

joeV ·

Bly hy het dit oorleef. Self ondervind op twee geleendhede, dood seker sal nie ‘n derde oorleef nie.
Metode om die room aan te wend, meng met alkohol in sproei bottel en sproei die HELE lyf voor aantrek.
Ook self geleer, hang swart handoek in donker deel van vertrek terwyl jy uit is, stap in en sproei gif in die rigting van die handoek, onder beddens en agter deure. (en met die plaaslike gif wat daar gekoop word, NIE DIE HANDOEK weer gebruik voor was nie nê)
Interesant – die selfde handelsnaam gif wat hier in ZA gemaak en verkoop word, is te koop in Zambië, Nigerië en Mosambiek, maar daar is dit eintlik gif, nie seker wat die bestandeel is wat daai in het nie, maar dit is by verre meer doeltreffend as die wat ons in Suid Afrika koop.

B ·

Ek woon al 8 jaar in Wes Afrika en het een ding geleer. Moet nooit die medikasie drink om malaria te verhoed nie, dit onderdruk die simptome en as mens se bloed getoets word kan dit negatief wys vir malaria.

Presies ·

Presies wat ‘n bekende professor in entomologie gesê het. Spuit, muskietnet, langbroek, lang hempsmoue ens. vir beskerming.

Manie ·

My ondervinding. Toe ek in Liberië gewerk het was die werkers geforseer om malaria pille te drink. Daar is drie van my vriende dood daardeur, omdat daai pulle die malaria sumpuime onderdruk en wanneer jy wel die simptome kry (veral die selubrale malaria) dan is dit te laat. Ons werk in Mizambique nou ak vir 7 jaar. En gebruik nie die malaria prevention pille nie, wn glo my maar as die malaria sumptime daar is dan tel die Dr dit inmiddelik op. Die belangrikste is wees malaria slim en weet wat die aimptome is en drink maar jou koartim en doxicline wat by die apteek beakikbaar is.

G ·

Ek werk al 7 jaar as Medic internasionaal in Malaria gebiede. My eie navorsing gedoen en met deskundiges gepraat wat spesialiseer in tropiese siektes soos Malaria. Al die advies en inligting wat ek bekom het dui daarop dat mens eerder moet wegbly van medikasie af om Malaria te verhoed. Ek ken persoonlik 4 mense wat die medikasie gedrink het en negatief getoets het vir Malaria net om in n koma terug te gaan SA toe en by die dood om te draai. 7 jaar in Malaria areas, geen medikasie nie slegs muskiet room, langmou klere snags, al is dit hoe warm en plaaslike gif spuit in die kamer en ek het nog nie een keer Malaria gehad nie (touch wood). Dit is belangrik om wel inligting te kry oor die area waarheen mens gaan. Ek maak n punt daarvan om inligting oor alle siektes in die omgewing waar ek werk beskikbaar te stel vir almal wat inkom vir werk alhoewel sommiges geen aandag skenk aan dit nie want hulle glo dit kan nie met hulle gebeur nie.

Blou Dorito ·

Hierdie vriend van ons staan ook bekend as Brutus Mamba! Niemand sal hom onder kry nie, hy was ook al in twee haai aanvalle betrokke. Hy het die een haai op die neus geboks en die ander een net uitgelag. Tjorts Bert!

Tricea ·

Dieselfde ondervind 2 jaar terug. Ons was Kruger Nasionale Park en Hoedspruit toe – nie eers buite landsgrense nie en die 3de internis wat ek gesmeek het, het uiteindelik my man opgeneem toe hy amper 10% malaria getoets het. ICU, ingevoerde medisyne direk van die Medisynebeheerraad en ‘n week in die hospitaal gewees. Kon ook amper nie meer loop of praat nie, omtrent 15kg verloor, niks binne gehou nie. Nagmerrie ondervinding wat ek niemand toewens nie!

Frikkie van die sharks ·

Hy was my koshuis hoofseun. Wat n wonderlike jong man. Het verskeie nag clubs saam hom al besoek, mcdonalds na dit. (Njabaaa)
En sy ma adelle is so n goeie tannie. Vetkoeke by die versfelds. Dankie grieta!!

Andrie ·

My ouers het Mozambique toe getrek in 1992, en my Ma was van die United Nations groep wat die eerste kliniek na die oorlog opgesit het. In meer as 20 jaar het ons famielie meer as wat ons kon vra voor traumatiese ervaarings gehaat met selebrale malaria. In die jare het ons geleer wat die simtoome is en elk van ons famielie van 7 het meer as 30 keer al malaria gehaat. Beste raat is jou altyd doxycycline (bree sprectrum antiebotica) en (lumartum malaria pille) of quinine wat in RSA oor die toon bank gekoop kan word. Simtoome is lig hoofpyn dan n lugte naar so bo die Adam’s appel, dan begin die pyn in jou lyf so lam pyn asof jy ver gedraf het in die son en alles is net seer, Na die begin jou oo seer raak voel amper of jy in n swembad met baie kloor geswem het. Na die gooi jy op so by die 2/3dag dan begin die koue en warm koors…. dis dan dat jy weet dit is nie verkoue nie. Melaria moet net vroeg behandel word as jy sleg voel drink jou pille bly in bed en moet noe sonder skoenne loop dit maak dit net erger. Gewoonlik bly jy in bed so 3 dae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.