Man was op parool tydens moord op Orkney-bejaarde

Anne Mary Erasmus. Foto: Verskaf

Die 31-jarige vermeende moordenaar van Anne Mary Erasmus (76), ʼn geliefde inwoner van Orkney in Noordwes, was uit op parool toe hy haar na bewering beroof en vermoor het.

Ao. Elize Kruger, woordvoerder van die Orkney-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die man, wat met vorige huisroofsake in Orkney verbind word, is in Januarie op parool vrygelaat.

Die man het Dinsdag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord, huisbraak, diefstal en verkragting. Die saak is tot 4 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

Die man se naam mag nie genoem word nie, aangesien hy teregstaan op aanklagte van verkragting en eers moet pleit.

Maroela Media het vroeër berig die verdagte is Sondag omstreeks 05:00 in verband met Erasmus se moord in hegtenis geneem.

“Ons taakspan van ses lede, onder leiding van kapt. Montshiwa, het sedert die moord onverpoosd gewerk om die verdagte op te spoor en te verseker ons bewyse is op die hoë standaard wat van ons howe verwag word,” het Kruger Sondag gesê.

Kruger het gesê die verdagte is by sy huis in die Kanana-nedersetting in hegtenis geneem. “Sy huis is deursoek en die polisie het op twee televisiestelle, ʼn tas, ou muntstukke, afstandbeheerders en twee selfone beslag gelê.” ʼn Selfoon, twee klein televisiestelle en ʼn onbekende bedrag geld is tydens Erasmus se moord gesteel.

Volgens Kruger het die verdagte glo op 14 Maart ʼn selfoon van ʼn bejaarde gesteel wat in die dieselfde straat as Erasmus woon. Dié selfoon is moontlik die ander selfoon wat in sy besit gevind is.

Erasmus is verlede Saterdag omstreeks 09:00 die laaste keer lewend deur vriende en familie by ʼn kettingwinkel gesien.

“Sy moes Sondagoggend die kerk gaan oopsluit, maar het nooit opgedaag nie. Die kerkgangers en haar bure het maar aangeneem dat sy siek gevoel het en Sondag tuis gebly het,” het Kruger gesê.

Kruger het gesê die vrou se kinders en kleinkinders, wat verspreid oor die land woon, het Maandag begin bekommerd raak toe hulle haar nie in die hande kon kry nie.

“Hulle kon haar nie per selfoon in die hande kry nie en sy het nie oproepe oor haar huisfoon beantwoord nie. Die kinders en kleinkinders het die vrou se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel.”

Volgens Kruger is die bure na haar huis en het hulle gesien die staalhek en voordeur staan oop. “Hulle het verder gaan ondersoek instel en gesien die huis is deurmekaar. Hulle het op haar liggaam in die stort by haar slaapkamer afgekom.” Die bure het die polisie Maandag omstreeks 13:00 ontbied. Die vrou se hande was met skoenveters vasgebind.

ʼn Nadoodse ondersoek is uitgevoer en daar is vasgestel dat Erasmus verskeie kere met ʼn mes gesteek is, wat tot haar dood gelei het.

“Die polisie het intussen ook vasgestel dat die moord verlede Saterdag plaasgevind het. Die verdagte het die Vrydagaand in haar tuin geslaap en haar bewegings dopgehou. Voor dit het hy in die straat rondgeloop en stukwerk gesoek. Hy het nie die slagoffer geken nie. Hy het Saterdag toegang tot Erasmus se huis verkry deur die agterdeur terwyl sy in haar tuin gewerk het,” het Kruger bygevoeg.

Erasmus word oorleef deur haar dogters, Linda Sanders en Rika Odendaal, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Lees die vorige berigte oor Anne Mary Erasmus op Maroela Media.

Beamptes by die verdagte wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vegter ·

Net nog n onskuldige weerlose vrou vermoor…..
En Ramaphosa is tjoepstil oor wat aangaan in die land. Maar hy wil grense oopgooi vir almal om nog meer ons land te kom plunder mooi man

PJC ·

Howe is deeglik bewus daarvan dat misdadigers wat van sekere tipe misdaad aangekla word dikwels oorgaan tot geweldsmisdaad maar notans staan hulle borgtog toe.

Parool? ·

Die ou storie van ‘op parool’ en dan maar wéér erge misdaad. Pleit?, gee hom vir my dan sal hy pleit . . . Deur die bank is dit weerlose vrouens/bejaardes van alle kleure wat aangeval word.

SjN ·

Die een wat die borgtog toegestaan het moet tot verantwoording geroep word

Komaan ·

KOMAAN MENSE laat jou julle SLAPPOLSGEIT Laat staan en gaan DAGVAAR Die STAAT vir hierdie atrocity. Hulle gee vir elke moordenaar parool na ‘n paar jaar om net weer te gaan MOOR > DAGVAAR DIE STAAT nou vir eens en vir altyd. JA julle gaan nie jou ma terugkry nie maar ten minste gaan julle geld he om ter ere van haar te gebruik op WAT Julle ookal voel julle dit wil doen .. DAGVAAR DIE STAAT en laat ons tande kry !!

Theresa ·

Sou ook dink wanneer daar parool toegestaan was en so ‘n mens moor en verkrag, daardie toestaander van die parool verantwoordbaar gehou moet kan word. Hierdie man is ‘n krimineel en hoort glad nie parool te kry nie. Hoop daar is iemand wat die familie kan help om ‘n saak te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.