Man wat akteur vermoor, kry lewenslank

Julies Lucas (Foto: Verskaf)

Julies Lucas (37) is Vrydag in die Pretoria-hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die jong akteur Sibusiso Khwinana (25).

Sibusiso Khwinana, die jong akteur wat die hoofrol in die plaaslike film Matwetwe vertolk, is op 1 Maart 2019 in Arcadia, Pretoria, vermoor. Lucas, ’n burger van Tanzanië, is sowat ’n week later in verband met Khwinana se moord aangekeer.

Lucas is op 3 Februarie vanjaar skuldig bevind op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die oortreding van die Immigrasiewet.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het regter Portia Phahlane vir Lucas tot lewenslange en ’n bykomende 23 jaar direkte tronkstraf gevonnis op al die aanklagte.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

“Phahlane het ook ná afloop van die vonnis beveel dat Lucas na Tanzanië teruggestuur moet word en daar sy tronkstraf uitdien,” sê Mahanjana.

Sibusiso Khwinana.

Maroela Media het vroeër berig Khwinana was op 1 Maart 2019 saam met sy vriende by ’n rolprentsentrum in Arcadia waar hulle na die première van Matwetwe – waarin Khwinana die hoofrol vertolk – gaan kyk het.

Ná die première is Khwinana tydens ’n rooftog by die rolprentsentrum doodgesteek terwyl die rower glo probeer het om sy selfoon by hom af te neem.

Onmiddellik ná die moord is ’n multidissiplinêre taakspan bestaande uit lede van misdaadintelligensie, speurders en forensiese kenners saamgestel om die verdagtes op te spoor. Lucas is gevolglik op 8 Maart 2019 in hegtenis geneem.

“Tydens die verhoor het Lucas skuld op alle aanklagte ontken. Met vonnisverrigtinge wat op 28 Maart sou begin het, het Lucas probeer om die proses te vertraag deur sy prokureur af te dank. Hy het aangevoer dat hy ’n nuwe regsverteenwoordiger wil aanstel en teen sy skuldigbevinding wil appelleer.”

Die saak is tot 3 Mei uitgestel om vas te stel of Regshulp Suid-Afrika hom van nog ’n regsverteenwoordiger kan voorsien. Op die genoemde datum het hy egter van plan verander en met dieselfde prokureur voortgegaan.

In sy slagoffer-impakverklaring het Khwinana se pa gesê sy familie kan emosioneel en fisiek nie die verlies van hul seun verwerk en hanteer nie. Hy dui aan dat hy sukkel om te slaap en dat sy gesondheid en sy vrou s’n verswak het sedert hul seun se heengaan.

Hy het verder gesê dat dit nie maklik is vir ’n pa om sy eie seun te begrawe nie, veral as hy nie aan natuurlike oorsake gesterf het nie, maar onnodig weens hebsug vermoor is.

“Die staatsaanklaer, adv. Jeffery Nethononda, het gesê Lucas was ’n opportunistiese rower en hierdie oortreding moet nie verkeerdelik as slegs ’n rooftog beskou word nie. Lucas het ’n duidelike bedoeling gehad om Khwinana te vermoor.

“Hy het ook die hof ingelig dat Lucas twee vorige veroordelings van dwelmbesit in 2015 en 2016 teen hom gehad het. Daarom het hy die hof gevra om ’n vonnis op te lê wat ’n boodskap aan die gemeenskap sal stuur.”

Toe regter Phahlane haar uitspraak lewer, het sy gesê dat Lucas die vermaaklikheidsbedryf en Suid-Afrika in geheel van groot talent beroof het.

“Lucas was ’n besoeker in Suid-Afrika, daarom moes hy as besoeker by die reëls van die land hou al is hy onwettig in die land. Die enigste gepaste vonnis vir hom was dié van tronkstraf omdat hy geen berou getoon het nie, geen respek en begrip gehad het vir die belangrikheid om ’n eed af te lê nie, en verskeie kere tydens sy getuienis gelieg het,” het Phahlane tydens haar uitspraak gesê.

Ná die vonnisoplegging het Lucas by monde van sy prokureur ’n aansoek ingedien om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Die staat het die aansoek suksesvol teengestaan en gesê dat Lucas geen vooruitsigte op suksesvolle appèl het nie. Die regter het albei aansoeke van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.