Man wat Bela-Bela-vrou glo aanrand bly agter tralies

Elzaan Smit voor die aanval. Foto: Verskaf

Elzaan Smit voor die aanval. Foto: Verskaf

Die man wat daarvan aangekla word dat hy Elzaan Smit (41) buite ʼn kuierplek in Bela-Bela só erg aangerand het dat haar gesig vergruis is en sy een van haar oë verloor het, het Dinsdag weer in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Freddy Modikwe moet op 13 Augustus weer in die hof wees om te hoor of hy op borgtog vrygelaat sal word. Modikwe het vroeër skuld ontken op die aanklagte teen hom. Hy het ook in die hof beweer hy is werkloos en werk soms as ʼn tuinier.

Maroela Media het vroeër berig Smit is buite ʼn kuierplek in die dorp deur die man oorval en met ʼn betonblok aangerand. Otto het egter gesê Smit is vermoedelik buite ʼn taverne in die township net buite die dorp aangerand. Sy is die volgende oggend in ʼn sloot langs ʼn treinspoor gevind.

Irma Genis, Smit se jarelange vriendin, het Dinsdag gesê daar is ooggetuies wat haar by ʼn kroeg in die dorp sien kuier het. “Sy kan glad nie onthou wat gebeur het nie, aangesien sy breinskade in die aanval opgedoen het. Sy sou nie williglik saam met vreemde mans na ʼn taverne in die township gaan nie. Dalk het hulle haar teen haar wil soontoe geneem of haar soontoe gesleep toe sy reeds bewusteloos geslaan was. Maar sy sou nie saam met mans daar gaan kuier het nie,” het Genis gesê.

Elzaan Smit na die aanval. Foto: Verskaf

Elzaan Smit na die aanval. Foto: Verskaf

Genis het bewerings dat Smit as gesellin gewerk het ook ten sterkste ontken. Sy het vertel dat een van Smit se voormalige kêrels uit wraak ʼn valse Facebook-profiel in haar naam geskep het waarop hy aangedui het dat sy as gesellin werk. Dit het aanleiding tot die gerugte oor haar beroep gegee.

“Dit is glad nie waar nie. Sy is ʼn haarkapper en bedryf haar salon in haar ma se huis in Bela-Bela,” het Genis gesê. “Sy sal nou natuurlik nooit weer ʼn haarkapper kan wees nie, aangesien sy nie kan staan nie en sy haar een oog verloor het. Maar tot en met haar aanval het sy as ʼn haarkapper gewerk.”

Smit word steeds in die Dr. George Mukhari-hospitaal in Pretoria behandel en sal Dinsdag opereer word om die oogkas waar sy haar oog verloor het skoon te maak. Genis het gesê dat sy steeds emosioneel baie swaarkry en dat sy berading ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

celeste ·

Mag God jou op die swaar pad bewaar. My hart gaan uit na jou. Ek hoop jy
vir berusting in jou hart. Dis n vreeslike hartseer storie

CHRISTA ·

Elzaan, moenie dat hierdie wrede aanval jou mismoedig laat nie. Met die liewe HERE aan jou sy sal jy hierdie elende oorkom. Ons kan jou net in ons gebede aan die liewe HERE opdra en HY sal jou in sy genade en liefde toevou. Elke dag sal Hy jou bystaan en jou dra!! STERKTE!!!

Leuens ·

Die storie maak my siek. Dis nie reg dat die vrou so verniel en verrinneweer was nie, maar die leuens dat sy nie n gesellin was ten tye van die aanval nie is nonsens. Sy het self vanaf daardie ” fals facebook” af vir haar seun geluk gewens met sy verjaarsdag, as ek reg gelees het was dit sy 20ste verjaarsdag. Als is goed en wel, al was sy n gesellin, tye is swaar en moeilik maar moenie vir geld vra onder vals voorwensels nie, mense simpatieseer oor n leuen, hoe weet mens die geld word aangewend vir mediese kostes? Rapporteer weer my kommentaar en laat dit weer delete word, dit bewys my saak en in elk geval weet mens die waarheid altyd uit kom. Hierdie aanval was in diepte bespreek en gekritiseer op die Facebook blad B.K.A ten tye van die gebeure.

Behalwe vir die twyfel oor die waardigheid van die feite wens ek persoinlik die vrou n spoedige herstel toe.

M ·

Al my simpatie aan die vrou. Niemand behoord so aangerand te word nie. My vraag, as dit so is. Wat maak ‘n blanke vrou in ‘n taverne in ‘n township buite die dorp? Dit is volgens my om vir GROOT probleme te soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.