Man wat dogtertjie ‘per ongeluk’ doodskiet vas vir moord

Argieffoto

Shaun Billet (45), die man wat sy vrou en ʼn eenjarige babadogtertjie geskiet het terwyl hy besig was om sy vuurwapen te beveilig, is in hegtenis geneem vir moord. Billet en sy vrou het na die dogtertjie omgesien nadat haar ma (die vrou se suster) oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het laat in Junie plaasgevind.

“Die 45-jarige wildbewaarder van Addo-Olifantpark het voorbereidings getref vir skietoefeninge op Arizona Farm in Paterson,” het Beetge gesê.

Volgens hom was die man, sy 42-jarige vrou en die dogtertjie in hul slaapkamer toe hy sy vuurwapen probeer beveilig het.

“Volgens die wildbewaarder én sy vrou het hy die magasyn verwyder, asook die vuurwapen wat aan ʼn geweerband aan sy skouer gehang het. ʼn Skoot het afgegaan en die koeël het sy vrou en die dogtertjie getref.”

Die dogtertjie is in haar bobene getref en het op die toneel doodgebloei. Sy vrou het die voorval oorleef.

Beetge het gesê ʼn reëling is met Billet getref en hy het Woensdagoggend self by die polisiestasie in Paterson aangemeld waar hy in hegtenis geneem is. “Hy het daarna vlugtig in die Paterson-landdroshof verskyn.”

Die saak is uitgestel tot 13 Augustus en die man is vrygelaat op R500 borgtog.

Die polisie ondersoek sake van poging tot moord, moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die spesifieke vuurwapen waarmee die skoot geskiet is, het glo aan SANParke behoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

RHG ·

Al is dit ‘n ongeluk, moet dit ondersoek word. ‘n Kind het sy/haar lewe verloor. Tragies.
Sou dink ‘n mens sou ‘n geweer beveilig met die loop wat weggedraai is en nie in
dieselfde vertrek as ander mense nie. Ek
veroordeel hom geensins, maar mens
moet voorkomend optree.

Lana ·

Baie jammer dat ‘n kind haar lewe verloor het. Ek is van mening dat dit ‘n ongeluk was.
Hoekom het SANParke (werkgewer) wat die wettig eienaar van die vuurwapen is, nie toegesien dat die werknemer in wettig besit van die wapen was nie?

Nin ·

RHG ek stem saam dit moet ondersoek word. Dit is net vir my onnodig dat hy gearresteer word voordat die ondersoek afgehandel is. Die SAPS ondersoek deesdae niks en arresteer net.

bosbokkie ·

Die kind is in haar bobene getref en sy het dood gebloei? Klink vir my of hulle – of dan hy, siende dat die vrou ook geskied was, nie drukking op die wond geplaas het nie. Ek het nie n noodhulp sertifikaat nie, maar dit is tog iets wat mens al van gehoor het om te doen?
Verder stem ek saam, dit is onverantwoordelik om n vuurwapen te hanteer terwyl ander mense in die vertrek is ( behalwe in n noodgeval) Hy moes gesorg het dat hulle uit die vertrek gaan – n ongeluk gebeur baie vinnig

4 slaapkamer huis..... ·

Ons is vinnig om te sê hy moes na ander vertrek gaan…. ons vergeet egter dat BAIE Suid Afrikaners in EEN vertrek sinkhuisies bly!
Ek stem saam dat n persoon wat met n vuurwapen werk veranderstel is om te WEET hoe om veilig te wees, ongelukke gebeur so vinnig – ek dink mense raak gemaklik en konsentreer nie op wtlat hulle doen nie.

RHG ·

Bosbokkie, ek was nie daar nie, maar die baba en vrou is met dieselfde koeël getref. Dit het dwarsdeur beide bababeentjies gegaan. ‘n Groot geweer moes erge wonde veroorsaak het.
Dis so onomkeerbaar. Sterkte vir hulle in die baie moeilike tyd.

Ongeluk ·

NEE ek is jammer, ons hanteer ook al meer as 30 jaar vuurwapens en regtig . . as jy enigsins twyfel of jy ‘n vuurwapen kan beveilig, hou jou kind en vrou uit die vertrek uit. Mens sien al hoe meer die ongelukke gebeur met mense wat gereeld vuurwapens hanteer, RAAK hulle nie net ‘n bietjie GEMAKLIK EN LAKS nie?? ‘n SKOOT GAAN NIE NET AF NIE MENSE< as jy nie die SNELLER TREK NIE, dan gaan 'n skoot nie af nie . tensy hy dalk val waar die skoot in sekere gevalle MAG afgaan .. maar ook baie onwaarskynlik . maar in my LEWE het ek nog nie van 'n geweer gehoor wat SELF afgegaan het nie, meeste skietongelukkig gebeur WANNEER iemand se vinger op die sneller is of wanneer hy deur 'n draad kruip maar STEEDS sy vinger op die sneller het .. Glo my .. in my familie het 'n man sy voet afgeskiet en STEEDS was dit as 'n ONGELUK beskou, maar sy VINGER WAS OP DIE SNELLER!! Ongeluk of nie, dit is die wet. Dit moet verskriklik erg wees vir die ouerpaar . .maar EKSTRA VEILIGHEID moet aan die dag gele word veral as daar 'n kind in die omgewing is. Ons maak glad nie wapens skoon met ENIGE kind in 'n vertrek nie. Sterkte ..

DVL ·

Dis tragies wat gebeur het maar ook dom. Jy beveilig nie ‘n wapen met ander mense in dieselfde vertrek nie veral nie as daar ‘n kind is nie. En as jy dit wil skoonmaak gaan sit jy op ‘n ander plek en sluit jouself toe in die vertrek tot jy klaar is en verkieslik in dieselfde vertrek waar jy dit weer gaan bere.

vis ·

Dit is tragies en hardseer. Kan net dink hoe die pa moet voel. kom ons los die slim wees vir die hof. Na ‘n ongeluk kan mens baie se dit en dat en moes dit gedoen het ens. die feit bly staan dit was ‘n ongeluk en ‘n fout was gemaak. Sterke vir die gesin. my gedagtes is met julle.

Piet ·

Van die mense bo praat baie maar se min. Dit moet hel wees om die oorsaak van so ongeluk te wees. Ek hoop die betrokkenes sal deur dit kan kom – sterkte daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.