Man wat dood glo versin vra borgtog

Argieffoto

Argieffoto

Die 31-jarige man wie se familie onder die indruk was dat hy in Desember in ʼn motorongeluk in die Vrystaat verkool het, het Woensdag weer in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.

Volgens die polisie het die verdagte, wat tereg staan op ʼn aanklag van bedrog, vlugtig in die hof verskyn en is sy borgtogaansoek tot 18 Julie uitgestel. Kapt. Ben Booysen, ondersoekbeampte, het gesê die saak behels ook bedrog met betrekking tot ʼn aansienlike eisbedrag in lewensversekering.

Die verdagte bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning. Hy is op 26 Junie in hegtenis geneem en het die volgende dag vlugtig in die hof verskyn.

Die polisie het ook vroeër bevestig ʼn moordsaak word intussen in die Vrystaat ondersoek in verband met die verdagte se “dood”, aangesien nou vasgestel moet word wie se lyk in die verdagte se motor gevind is.

Die verdagte se naam kan nie bekend gemaak word nie omdat dit die polisie se ondersoek kan belemmer.

Maroela Media het vroeër berig die verdagte se vrou is in Oktober 2012 in die egpaar se huis in Ruimsig, Johannesburg, vermoor. Die polisie het destyds haar moord saam met drie ander moorde ondersoek, aangesien dit vermoedelik met satanisme verband hou. Sy en die ander drie vermoordes was almal deel van dieselfde bediening. Dit is nie duidelik of enigiemand ooit vir die moorde in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Nico Strydom, (en dit is die tweede keer wat ek die vraag vra want die berig het ook vroeër verskyn) wat word bedoel by ‘deel van dieselfde bediening’? Bedoelende gemeente soos in kerk-bediening? Die vraag hou verband met die voorafgaande sin.

Nico Strydom ·

Dagsê Cherokee
Die bedoeling is kerk-bediening soos jy tereg merk.
Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

Wat-ek-lees ·

Hier sal ek ook veilig wees met bewoording van ‘bediening’ i.p.v. ‘kerkbediening’ tensy satanisme ook nou ‘n kerk is. Wie kan help?
(Amper) die volmaakte?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.