Man wat glo huishulp verkrag ‘nie ʼn rassis’

Lede van die publiek in die Bronkhorstspruit-landdroshof. Foto: ANA

Die 45-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy sy ouers se huishulp verkrag en haar glo gedwing het om seksuele dade met sy hond te pleeg, is Donderdag borgtog in die Bronkhorstspruit-landdroshof geweier.

Landdros David Shikwambana het sy uitspraak voor ʼn volgepakte hof gelewer.

Shikwambana het gesê sy besluit om die man se borgtogaansoek van die hand te wys, is gedeeltelik gebaseer op artikel 60 (11)(a) van die Strafproseswet. Volgens dié artikel kan ʼn beskuldigde wat van skedule ses-aanklagte aangekla word, soos in hierdie geval, slegs op borgtog vrygelaat word indien daar aan die hof bewys is dat buitengewone omstandighede bestaan wat sy vrylating op borgtog regverdig en dat dié borgtog in belang van geregtigheid is.

Shikwambana het gesê hy kan nie enige redes insien ingevolge dié gedeelte van die Strafproseswet hoekom borgtog toegestaan moet word nie.

Shikwambana het wel ʼn argument deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Ehleketani Maluleke, aanvaar dat die beweerde oortredings nie rasgedrewe was nie.

Die beskuldigde tydens ‘n vorige verskyning. Foto: ANA.

Maluleke het ter ondersteuning van haar argument aan die hof gesê dat die beskuldigde met ʼn swart vrou getroud was wat in Desember 2005 aan natuurlik oorsake dood is. Sy het ʼn dokument van die departement van binnelandse sake by die hof ingedien wat dié huwelik bevestig.

“Soos ek hierdie man sien, is hy nie ʼn rassis nie. Hy was met ʼn swart vrou getroud. Ek is tevrede dat die borgtogaansoek nie in ʼn rassistiese lig gesien kan word nie,” het Shikwambana gesê.

Shikwambana het gesê nog ʼn rede vir sy besluit om die beskuldigde borgtog te weier, was die staatsaanklaer Tiisetso Leballo se argument dat gemeenskapslede woedend sal reageer en die gereg in eie hande sal neem indien die beskuldigde vrygelaat word.

Die man, wie se naam nie genoem mag word voordat hy gepleit het nie aangesien hy teregstaan op aanklagte van ʼn seksuele aard, staan tereg op tien aanklagte insluitend verkragting, seksuele aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging. Hy is in November in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Die voorval het na bewering op 23 Oktober verlede jaar in ʼn kamer in sy ouerhuis in Riamarpark in Bronkhorstspruit gebeur.

Die saak is tot 24 April uitgestel vir verdere ondersoek.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Coenie ·

Hoekom is Floyd Shiwambu nog nie gearesteer nie want hy is n rassis wat onskuldige fotograwe aanrand.

Paul ·

Want die gemeenskap het nie woedend genoeg gereageer nie, dit is mos maar soos daar deesdae ook in elke saak borgtog geweier word, want die as borgtog toegestaan word, het die gemeenskap aangedui dat hulle die reg in eie hande gaan neem. Dit het nou al soos ‘n rympie (resitasie) geraak.

Dirk ·

So, nou verstaan ek! As ‘n blanke nie met ‘n swarte getroud is,of was nie dan word jy as ‘n rassis beskou.

christa ·

dat ‘n mens so lag kan daal…. Hy hoort uit die samelewing verwyder te word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.