Man wat glo sewe op Kersdag vermoor, bly agter tralies

Azwidohwi Enoch Ndou (52) staan tereg op sewe aanklagte van moord. (Foto: NVG)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy sewe van sy familielede Kersdag in die vroeë oggendure vermoor het, bly agter tralies.

Maroela Media het vroeër berig Azwidohwi Enoch Ndou (52) het sy twee broers, vier kinders en een van die broers se swanger vrou kort ná middernag op 25 Desember doodgeskiet. Die familie het glo getwis oor ʼn stuk grond wat aan hul pa behoort het.

Die polisie het die slagoffers geïdentifiseer as Mpho Donald Ndou (33) en sy drie kinders, Rendani Winnus Ndou (12), Dakalo Makondo Ndou (8), Ronewa Ndou (4), Ndivhuwo Douglas Ndou (33), sy vrou Portia Mabasa (37) en hul eenjarige kind Wanga Ndou.

Ndou is ʼn verpleër wat hom kort ná die moorde aan die polisie op Thohoyandou gaan oorgee het.

Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê Ndou het Dinsdag in die Malamulele-landdroshof verskyn waar hy tereg staan op sewe aanklagte van moord.

Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 5 Januarie sodat hy die dienste van ʼn regsverteenwoordiger kan bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.