Man wat glo studente verkrag binnekort verhoor

Die ingang na die Tweede Laan-kampus van NMU. Foto: NMU

ʼn 29-jarige man wat aangekla word van die verkragting van twee studente van die Nelson Mandela Universiteit (NMU) sal na verwagting binne die volgende drie maande verhoor word.

Die man het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn as deel van voorverhoorverrigtinge. Hy staan tereg op aanklagte van verkragting, roof en huisbraak.

In Oktober verlede jaar is ʼn 25-jarige student en haar vriendin gewelddadig aangeval in ʼn rekenaarlaboratorium op die Tweede Laan-kampus. Die aanvaller het na bewering die studente verkrag, hulle van hul selfone beroof en een van hulle met ʼn skêr gesteek.

Die vroue is daarna gedwing om ʼn rekenaar en ʼn skerm na buite te dra en dit oor die hek vir die aanvaller aan te gee, voordat hy op die vlug geslaan het.

Die beskuldigde se naam kan nie bekendgemaak word totdat hy formeel op die aanklagte teen hom gepleit het nie.

Dit het vroeër aan die lig gekom dat die beskuldigde ʼn vorige skuldigbevinding van roof met verswarende omstandighede teen hom het. Hy het gevolglik sy borgtogaansoek laat vaar en is steeds in polisieaanhouding.

Die saak is uitgestel tot 27 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snoefie ·

klink dit dan nou of die “vriendin” nie eers n student is nie. dalk by die historiese student geloseer? op 25 was my studielening al terug betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.