Man wat glo verkeersbeampte en haar ma skiet in hof

hof-hamer

Argieffoto.

Die man wat daarvan verdink word dat hy ʼn verkeersbeampte en haar ma verlede maand in hul huis doodgeskiet het, het Vrydag in die hof verskyn.

Clement Mashego (35) het in die Moutse-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy bly in aanhouding tot 7 September wanneer hy na verwagting formeel aansoek om borgtog sal doen.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Kotelo Tshepi (26) en Makitla Chileki (62) is omstreeks 22:00 in hul huis in die Ntwane-nedersetting, ongeveer 40 km vanaf Groblersdal in Limpopo, geskiet.

Tshepi was aan die Groblersdal-verkeersdepartement verbonde en hulle het in die Ntwane-nedersetting gewoon.

“Die polisie is steeds op soek na die verdagte wat die slagoffers glo genader, geskiet en toe van die toneel gevlug het,” het Ngoepe gesê. Volgens Ngoepe is die slagoffers met talle skietwonde binne die huis aangetref.

“Volgens die polisie se voorlopige ondersoek is die verdagte ʼn kêrel van die beampte wat oorlede is. Hy het na bewering van die toneel gevlug met ʼn groen Toyota Conquest wat later by ʼn vulstasie in Siyabuswa aangetref is,” het Ngoepe gesê.

Volgens Ngoepe word Tshepi se amptelike vuurwapen en ammunisie vermis en is die motief agter dié moorde nog nie bekend nie. “Ons kan nie die moontlikheid van huishoudelike geweld uitsluit nie,” het Ngoepe gesê.

Die ondersoek duur voort.

Mense met inligting oor die voorval word versoek om kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 te bel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ilse ·

Die polisie soek steeds na die verdagte, maar die verdagte het reeds in die hof verskyn en bly in aanhouding?? Onbegryplik. Swak polisie of swak beriggewing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.