Man wat glo vrou doodslaan se verhoor moet oor begin

Dene Stebuys. Foto: Raahil Sain / ANA

ʼn 40-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou met ʼn klip doodgeslaan en sy seun met ʼn mes aangeval het, se verhoor moet van vooraf begin.

Dene Stebuys het Dinsdag weer in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn waarna die saak uitgestel is vir ʼn nuwe verhoordatum.

Stebuys word daarvan beskuldig dat hy sy vervreemde vrou, Marilyn (36), op 5 Junie 2016 vermoor het.

Stebuys se verhoor het reeds in Mei verlede jaar begin, maar is al talle kere uitgestel aangesien die regter, Phakamisa Tshiki, intussen siek was. Sedert sy inhegtenisneming het Stebuys drie keer om borgtog aansoek gedoen, maar dit is elke keer geweier. Hy is egter later borgtog toegestaan aangesien sy verhoor verskeie kere uitgestel is.

ʼn Nuwe staatsaanklaer is sedertdien aan die saak toegewys. Regter Urma Schoeman sal die saak aanhoor. Die nuwe verhoordatum sal Woensdag vasgestel word.

Marilyn het minder as ʼn maand voordat sy vermoor is ʼn beskermingsbevel teen Stebuys verkry uit vrees dat hy haar en haar kinders sou leed aandoen.

Stebuys het glo die aand van 16 Mei 2016 by hul huis in Vaaldam opgedaag. Hy het glo tydens die voorval hul 16-jarige seun met ʼn mes gesteek en Marilyn aangerand. Sy het hierna die beskermingsbevel verkry.

Marilyn het op 5 Junie saam met ʼn ander man gestap toe Stebuys glo na hulle gehardloop en Marilyn met ʼn klip doodgeslaan het. Haar liggaam is naby die sportkompleks in die Maak ʼn Las-nedersetting gevind.

Stebuys is op 6 Junie 2016 in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag van moord, twee van aanranding met die doel om ernstig te beseer, aanranding en die verontagsaming van ʼn beskermingsbevel.

Die Stebuys-egpaar se kinders is nou in die sorg van hul oupa en ouma en het tydens die verhoor as getuies vir die staat getuig. Stebuys het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Was altyd onder die indruk die Vaaldam is in die Vrystaat…

Yankee ·

Waaaaaaaaat. Kanie glo ek lees dit nie. Aikona, kanie waar wees nie!!!
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.