Man wat glo vrou vermoor terug hof toe oor borgtog

Rob Packham verlaat die Wynberg-landdroshof tydens ʼn vorige hofverskyning. Foto: Tracey Adams/ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Woensdag beslis of Robert Packham, die Kaapse sakeman wat tereg staan vir die moord op sy vrou, weer op borgtog vrygelaat sal word.

Packham se regspan het appèl aangeteken teen die hof se besluit om in Desember verlede jaar sy borgtog terug te trek nadat hy volgens die staat sy borgtogvoorwaardes verbreek het. Packham was nie Dinsdag in die hof toe die aansoek aangehoor is nie. Hy word tans in die Pollsmoor-gevangenis aangehou.

Adv. Susan Galloway, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê daar bestaan geen rasionele gronde hoekom Packham weer op borgtog vrygelaat moet word nie.

Die 57-jarige sakeman staan tereg op aanklag van moord en dwarsboming van die gereg in verband met die dood van sy vrou, Gill Packham, in Februarie verlede jaar. Maroela Media het vroeër berig Gill is die oggend van 22 Februarie 2018 by haar huis weg na Springfield Convent School waar sy gewerk het. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-treinstasie gevind.

Die staat voer aan Robert het ʼn stomp voorwerp gebruik om Gill mee oor die kop te slaan en het toe haar BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek om sy spore dood te vee.

Packham is op borgtog van R75 000 vrygelaat, maar regter Elizabeth Baartman het op 20 Desember sy borgtog teruggetrek nadat hy probeer het om met sy voormalige minnares kontak te maak deur ʼn gemeenskaplike vriend.

Hy het glo ʼn brief getik wat hy by die sekuriteitstoonbank van die kompleks waar die vriend woon afgegee het. Hy het na bewering ook in Oktober teksboodskappe na die vriend gestuur wat ʼn oortreding van sy borgtogvoorwaardes is.

Gill Packham. Foto: Via Facebook

Ben Mathewson, Packham se regsverteenwoordiger, het egter vandag aangevoer daar is geen bewyse dat dié SMS’e wel deur Packham gestuur is nie. “Hy ontken dit. Ek moet die hof vra om die holderstebolder manier waarop die polisie hierdie aspek ondersoek het, in ag te neem. Dit is net hoorsê op hoorsê,” het Mathewson gesê.

Hy het aangevoer dat die staat nie bewys het dat sy kliënt sy borgtogvoorwaardes oortree het nie en dat ʼn ander hof moontlik tot ʼn ander bevinding sal kom. “Hierdie appèl is nie gedoem nie en daar is gronde vir die hof om verlof tot appèl na ʼn ander hof toe te staan,” het hy aangevoer.

Mathewson meen die staat het slegs gesteun op bespiegeling van getuies toe hulle aangevoer het Packham het die brief en SMS’e gestuur. Galloway het egter van hom verskil en aangevoer dat Packham se optrede, insluitend dat hy vrylik rondbeweeg het terwyl hy onder huisarres was, vereis dat die hof optree.

Dit was nie die eerste keer dat Packham daarvan beskuldig is dat hy sy borgtogvoorwaardes oortree nie. Hy is aanvanklik op borgtog van R50 000 vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is, maar die borgtog is in September verlede jaar tot R75 000 verhoog met strenger voorwaardes nadat hy staatsgetuies, insluitend sy minnares, gekontak het.

“Wanneer die beskuldigde se gedrag vóór die terugtrekking van sy borgtog in ag geneem word, word daar aangevoer dat hy voortdurend en ondanks waarskuwings om dit nie te doen nie, sy borgtogvoorwaardes verbreek het. Dit word daarom aan hierdie hof gestel dat dit nie in belang van geregtigheid kan wees om die beskuldigde toe te laat om sy borgtogvoorwaardes te verbreek sonder enige gevolge nie,” het Galloway gesê.

Baartman sal môre om 14:00 uitspraak lewer.

Packham se verhoor begin op 11 Maart.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Antoinette ·

En dan word die kinders misbruik en getraumatiseer om te getuig vir strafversagting. Siek!

Judge Dredd ·

Dit het te duur geword vir party mans om te skei.

Helfde van jou bates weggee – in die proses verloor jy dalk jou besigheid wat jy lewenslank aan gewerk het.

Jepetto ·

Mariaan jy onthou nog seker vir Diusie De Melker die AREME Mans

LÍEWE GENADE,TOG! ·

❗❗GENADE NEE❗wát gaan aan met die mensdom….dié spul OU BOKKE, wat só kwaaddoen op hoë ouderdomme…dan sommer die vrou gougou vermoor ook in proses…❗❗GENADE NEEE satan hol loshande rond…? en blinkstefaans verloor boonop sy mimmiemiaau lover én hardverdiende ou geldtjies en ALS❗❗

LÍEWE GENADE,TOG! ·

Van nuuskierigheid, is die tronke vol eni kerke leeg JISLAAIK ❗❗❗❗?

Agie ·

…..as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood….
(Volgens Jakobus 1:15)

Het ons te slim geword om die WETBOEK te raadpleeg?
Die skrywer van hierdie BOEK ken hart en motief

ANA ·

Mag reg en geregtigheid geskied,hierso!
BAIE STERKTE aan die familie en geliefdes wat geraak word ???

Louis Jacobs ·

Soveel makliker om net saam te bly.
Soveel goedkoper om mekaar te los.
Skud net blad, wens mekaar alles van die beste toe vir die toekoms en gaan aan.
Geen drama nie.
Daar is nou al ‘n hele paar mans wat “sieltjies sonder sorge” sou wees indien hulle nie getrou het nie.
Hierdie ou, die ou van PE, daai ander ou wat sy vrou verwurg het, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.