Man wat glo vrou vermoor wéér vas

Gill Packham. Foto: Via Facebook

Robin Packham, die man wat teregstaan vir die moord op sy vrou, Gill, is weer in hegtenis geneem nadat hy vroeër op borgtog vrygelaat is.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn 57-jarige man is Donderdagaand deur die Dieprivier-polisie in hegtenis geneem met ʼn lasbrief rakende die verbreking van sy borgtogvoorwaardes en intimidasie van getuies in verband met ʼn moord wat op 22 Februarie gepleeg is.

“Hy sal na verwagting Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn,” het Traut gesê. Gill (57) is op 22 Februarie deur ʼn familielid by die Dieprivier-polisie in Kaapstad as vermis aangemeld. Die polisie het later die aand op ʼn brandende BMW by die Dieprivier-treinstasie afgekom. Nadat die vlamme geblus is, is die verbrande liggaam van ʼn vrou in die kattebak van die motor aangetref. Die liggaam is later as dié van Gill geïdentifiseer.

Die staat voer aan Packham het Gill vermoor deur haar met ʼn stomp voorwerp te slaan en dat hy probeer het om die misdaad weg te steek deur die motor met haar liggaam daarin aan die brand te steek. Die staat voer ook aan dat Packham skuldig is aan dwarsboming van die gereg omdat hy glo vals inligting aan die polisie verskaf het tydens hul ondersoek in ʼn poging om hulle te mislei.

Robin en Gill Packham. Foto: Facebook

Packham is op 1 Maart in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou. Hy is kort daarna op borgtog van R50 000 vrygelaat. Sy streng borgtogvoorwaardes het onder meer ingehou dat hy twee keer per week by ʼn polisiestasie aanmeld, sy paspoort inhandig en nie met getuies kontak maak nie.

Volgens die klagstaat wat verlede maand op Packham beteken is, voer die staat aan dat hy en sy vrou glo huweliksprobleme gehad het.

Luidens die klagstaat het die Packham-egpaar saam in Constantia gewoon, maar was dit vir maande voor Gill se dood glo duidelik dat hulle huweliksprobleme ervaar het. Die egpaar het twee volwasse kinders wat teen daardie tyd reeds uit die huis was.

Volgens die staat is Gill se motor die dag waarop sy vermis geraak het in die verkeer opgemerk met ʼn man agter die stuur. ʼn Ooggetuie het glo ook gesien hoe Packham van die Dieprivier-treinstasie af wegry nadat Gill se motor daar aan die brand gesteek is.

Packham moet op 26 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn vir voorvonnisverrigtinge in verband met die moordsaak.

Lees die vorige berigte oor Gill Packham op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Voorvonnisverigtinge? Lees nie in die berig dat hy (reeds) skuldig bevind is nie.

Lees ·

Cherokee; daar kan nie voorvonnigverrigtinge wees, indien iemand nie reeds skuldig bevind is nie, wat beteken Rob Packham is wel skuldig bevind. Jy het duidelik nie die vorige berigte op Maroela gelees nie; alles kan nie elke keer herhaal word nie. Rob Packham is reeds aan die begin van Maart aangekla van moord en dwarsboming van die gereg.

Cherokee ·

Lees, jy kan gerus jou naam gestand doen. Ek het voor hièrdie kommentaar weer die berig gelees en die berig sê steeds dat ‘die staat voer aan…’ en dit dui dus steeds nie op skuldigbevinding nie.

So ongelooflik hartseer & onnodig ·

Met so optrede is 2 kinders van beiede hul ouers ontneem. Werklik so maklik om te skei, jy moet maar net weer downscale, ‘n klein moderne meenthuis kan werk, maar nee “greed” was menige mens se ondergang. Werklik ek kan nie glo dat hy dan nog met getuies gaan peuter nie. Laat mens wonder of hy nie wreder kan wees nie. Nou gaan hy sit en alle kanse is nog meer versleg, ek hoop almal met sulke planne lees maar net bietjie.

Elsabe ·

Hier kon net 1 van 2 dinge gebeur het. Hy het haar uit woede wat ‘n lang tyd kom vermoor of hy het nie kans gesien om af te sien van sy besittings en met haar te deel nie. So onnodig. Gewoontlik het beide ewe hard gewerk vir wat hulle het en kon dit maar net gedeel word.

Suzette ·

@Elsabe so maklik vermoor mense mekaar. Satamn is vierkantig los onder familie geliefdes en vriende. Woede haat en nyd oorheers alles. So tragies en onnodig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.