Man wat handgranaat gooi in hof: ‘Dit was ’n gevoellose moord’

Argieffoto

Argieffoto

Joel Mahoase, die voormalige weermagkolonel wat na bewering sy vrou met ʼn handgranaat vermoor het, is Dinsdag borgtog in die Durban-landdroshof geweier.

Landdros Vanitha Armu het gesê sy glo nie dit sal in belang van geregtigheid wees om Mahoase op borg vry te laat nie. “Dit was ʼn gevoellose uitvoering van ʼn moord. Hierdie is nie jou alledaagse moordsaak nie,” het sy gesê.

Mahoase (44) het op 29 Augustus na bewering twee M26-handgranate in die kombuis van sy gesin se Amanzimtoti-woning gegooi terwyl hy en sy vrou rusie gemaak het. Een van die granate het ontplof en sy vrou, Lesego, is aan haar beserings dood.

Armu het Mahoase se borgtog geweier ten spyte daarvan dat die staat nie sy borgaansoek teengestaan het nie. “Die beskuldigde het seker gemaak dat sy vrou nie oorleef nie,” het sy gesê. Sy het gesê sy glo nie dat Mahoase op ʼn aanklag van moord en die onwettige besit van plofstowwe vrygespreek sal word nie.

Sy het ook bevraagteken of ʼn onskuldige man sy twee kinders sou agterlaat en vir drie dae voortvlugtig sou wees. “Hy het geen agting vir haar gehad nie en hy het geen agting vir sy kinders wat in die huis was nie,” het sy gesê.

Advokaat Paul Jorgensen, Mahoase se regsverteenwoordiger, het vroeër aan die hof gesê sy kliënt “het ʼn baie goeie kans om vrygespreek te word”, veral aangesien die saak teen hom gebaseer is op die getuienis van een persoon. Jorgensen het gesê daar was geen forensiese bewyse teen sy kliënt nie en dit was nie duidelik wie die handgranate bekom het nie aangesien Mahoase sowel as sy vrou vir die weermag gewerk het.

Die hof het vroeër gehoor Mahoase het vier jaar gelede afgetree, terwyl sy vrou steeds as ʼn klerk in die lugmag gewerk het. Jorgensen het ook gesê sy kliënt het homself aan die polisie oorgegee en was dus nie ʼn vlugrisiko nie. Hy het gesê die staat kon geen bewyse lewer dat Mahoase met staatsgetuies sou inmeng of iemand intimideer nie. “Ons moet nie die fout maak om nou die verhoor te hou nie,” het Jorgensen gesê.

Dit het vroeër in die hof aan die lig gekom dat Mahoase voorheen ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak het nadat sy vrou in Junie vanjaar remvloeistof oor sy motor uitgegooi het terwyl hy in die motor was en probeer het om dit aan die brand te steek. Mahoase het egter later die klag laat vaar.

Die staat het aangedui dat hy nie ’n bykomende klag van poging tot moord teen Mahoase sal bring nie aangesien sy kinders nie ten tyde van die ontploffing van die handgranaat in die huis was nie.

Die saak is tot 15 Oktober uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

stoney ·

Het nie geweet jy kan handgranate huistoe vat as jy van diens gaan nie.

Dave ·

So Stoney, jy het dit blykbaar nie raakgelees dat hulle beoog om voor te gee dat sy vrou die handgranate na diens huistoe geneem het.

Nico ·

So sy vrou het die handgranate huistoe geneem as sy van diens gaan nie.

pop ·

Dis n nuwe een. Gevoelose moord!!! Is die ander moorde dan gepleeg met empatie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.