Man wat hof se vensters breek, wil skuldig pleit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jake Noren/Unsplash)

Die man wat vroeër vandeesmaand die Vryburg-landdroshof se vensters uitgeslaan het, beplan om skuldig te pleit by sy volgende hofverskyning.

Sibongile Dube (35) het ook Maandag aan die einste hof wat hy beskadig het, verduidelik wat sy motief vir die misdaad was.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê Dube het Maandag in die hof verskyn vir ʼn formele borgtogaansoek.

In stede daarvan het hy aan die hof gesê dat hy van plan is om skuldig te pleit op die aanklagte teen hom. Hy staan tereg op aanklagte van opsetlike beskadiging van eiendom.

Dube is op 9 Januarie deur ʼn veiligheidswag betrap wat gehoor het hoe die vensters van die hof breek. Die wag het Dube agternagesit, hom gevang en die polisie ontbied waarna hy in hegtenis geneem is.

Dube het sedertdien gesê dat sy optrede deur woede gedryf was.

“Hy sê dat hy die misdaad gepleeg het omdat hy suur is oor die drie maande lange tronkstraf wat hy in ʼn afsonderlike voorval in Junie 2020 uitgedien het. Hy is destyds tronkstraf opgelê omdat hy nie vir sy hofverskyning opgedaag het nie,” sê Mamothame.

“Hy beweer hy het ʼn geldige rede gehad om nie die hofsitting by te woon nie, maar is nietemin gevonnis.”

Mamothame sê Dube is ook vies oor ʼn vonnis van twee jaar wat hy in 2009 vir aanranding ontvang het.

Dube sal nou Woensdag weer in die hof verskyn waar hy na verwagting skuldig sal pleit vir sy jongste misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Opsetlike beskadiging van eiendom mag slegs plaasvind as dit onder toesig en aanhitsing van Hoed en sy ANC Kader plaasvind en slegs hooggeplaastes en en X-Presidente hoef nie vir hofverskyning op te daag die.

Dries

Goeie rede ek voel ook partymal so oor hofuitsprake in die land

Rooikoos

Gewoontemisdadiger. Sluit toe.

Mariana

En toe slaan hy ruite uit oor hy kwaad is. Miljoene is kwaad, maar as elkeen nou sou besluit om als te vernietig, sal daar niks oorbly nie. Ongelukkig is dit nou soos dit is, as jy oortree moet jy gestraf word….punt.

JM

Ag siestog, die arme man! Hy “mag” mos maar misdaad pleeg. Hy het “rede” om woedend te wees oor sy tronkstraf: hoe “durf” hy gestraf word? In hierdie land kan mos maar gemaak en gebreek word soos ons lus het. Hoe “durf” die owerhede so “onregverdig” wees om hom te straf?