Man wat honde glo met gholfstok doodslaan, weer in hof

Leané Wolmarans se drie honde. Foto: Verskaf

Leané Wolmarans se drie honde. Foto: Verskaf

Die saak teen die man wat na bewering sy bure se drie honde met ’n gholfstok doodgeslaan het, is verlede week in die Hatfield-landdroshof in Pretoria uitgestel.

Johan van Zyl is op ʼn aanklag van dieremishandeling in hegtenis geneem nadat hy op 18 April na bewering sy bure, Neels en Leané Wolmarans, se drie honde met ʼn gholfstok in die Pebble Sands-kompleks in Mooikloofrif doodgeslaan het. Hy is intussen op borgtog vrygelaat.

Leon van der Merwe, ʼn prokureur van Roestoff en Kruse prokureurs wat die Wolmaranse verteenwoordig, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die egpaar het nog nie besluit of ʼn bykomende skadevergoedingeis teen Van Zyl ingestel gaan word nie, omdat hulle wag dat die strafregtelike proses eers afgehandel word.

“Die hofproses kan ʼn lang tyd neem, dus wag ons eers om te sien wat gebeur. Ons praat wel met Van Zyl se regspan, maar ek kan nie nou meer besonderhede gee nie,” het Van der Merwe gesê.

Tom Robbertse, Leané se pa, het vroeër aan Maroela Media gesê sy dogter en haar man was ten tyde van die voorval weg vir die naweek. Leané het met hul terugkeer bloed en breinweefsel op hul erf gekry. Die polisie en DBV is ontbied om die toneel te ondersoek.

Toe Van Zyl omstreeks 12:00 terugkeer nadat hy gaan gholf speel het, het die polisie hom ondervra en sy motorhuis deursoek. In die motorhuis is bloed gevind waar een van die honde glo doodgeslaan is.

Volgens Robbertse het Van Zyl erken dat hy twee van die honde in die erf en die ander een in sy motorhuis met ʼn gholfstok doodgeslaan het. Hy het die polisie na ʼn nabygeleë veld geneem waar hy die honde se karkasse in ʼn swart sak weggegooi het. Die karkasse is deur die polisie weggeneem vir forensiese toetse.

Die honde was twee miniatuurwindhonde en ʼn Jack Russel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

scalla ·

Laat n deel van sy straf wees om naweke by die dbv diens doen en die hondebollie met sy hande op te tel. Gewetenlose mens.

MARTIN ·

Hy verdien alles wat na sy kant toe kom. Wat nou van die eienaars wat veronderstel was om na die honde om te sien?

CHRISTA ·

Die barbaar!! Vir sy straf moet hy vir ten minste een jaar voltyds by die DBV werk en ook elke aand daar slaap sodat hy leer aanpas en aanvaar dat honed blaf!! Hy kon liewer die polisie geskakel het of ‘n klag van rusversteuring by die polisie aangemeld het!!!

Asjas ·

Hou die gemors weg van die DBV af! Dis die tipe skuim wat ‘n hond sal skop wanneer niemand kyk nie. Hy moet ‘n stywe boete aan die DBV betaal maar HY moet maar liewer wegbly van diere af.

Ouman ·

Hy moet bietjie tyd agter die tralies deurbring. Sy soort moet verwyder word uit die samelewing

johan ·

Ek neem aan hulle het geraas, die berig is bietjie eensydig. Party mense los ook die honde om vir ure te raas, in beskaafde lande word probleem honde geskool. En as jy werklik v jou honde omgee sal jy hul self ook leer. Ek het ook al gewens n buurman wil net ook wakker lê en luister na sy honde…Simpatie met al die partye hier want hul is allmal skuldig. As my honde blaf weet ek hier is iemand by my hek en hul is altyd bly as ek kom kyk.

MARTIN ·

Johan, lees my komentaar. Ek stem saam met jou.
Laat al die partye maar bietjie nader staan.

THEA SWART ·

ek stem 100% saam met Johan ons buurman se hond is ‘n alleen hond en hy blaf 24/7 of sy baas by die huis is of nie – en hy blaf vir alles wat beweeg en dit wat nie beweeg nie skop hy tot dit beweeg sodat hy kan blaf – dit is vreeslik irriteerend en hou aan vir ure aaneen – dankie tog ek werk deur die dag en is dit net die aande wat jy gewoonlik wil slaap dat die gekef jou mal maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.