Man wat in kaping sterf se plek ‘leeg’

Nicolaas James Devenish by sy vrou, Maryna. (Foto: Facebook)

“In elke skietgeveg is daar ’n wenner en ʼn verloorder. Ongelukkig maak die goeie ou dit nie altyd nie.”

Só skryf die Facebook-groep Motivus Specialist Motivation and Appeals in ’n huldeblyk aan die 30-jarige Nicolaas James Devenish, wat Saterdagoggend aan veelvuldige skietwonde beswyk het toe hy op die R50 naby Delmas in Mpumalanga deur kapers aangeval is.

Luidens Devenish se Facebook-blad was hy ’n sakeontwikkelingsbestuurder in Pretoria, waar hy saam met sy vrou, Maryna, gewoon het. Dit blyk dat die jong egpaar in Junie verlede jaar getroud is.

Maryna het Sondag in ’n roerende huldeblyk op Facebook geskryf dat haar man se plek leeg is.

Nicolaas James Devenish was ’n sakeontwikkelingsbestuurder in Pretoria. (Foto: Facebook)

“Woorde is min! Dit is ’n bitter, so seer, gevoel. Mag jy die beste tyd hê, elke dag visvang en jag in die Hemel. Man met die mooiste, opregste en grootste hart. Jou plek is leeg. Jy was vir ’n kort tydjie aan my en almal wat jou geken het geleen, maar jy’t my en almal gelos met soveel lewenslesse en herinneringe.”

Hein de Swart, ʼn lid van die SA Jaggeweerskietvereniging, het vroeër gesê dat Devenish, ’n sportskut en jagter in sy vrye tyd, op pad na dié organisasie se Gauteng Ope was waar hy as ’n besoeker sou deelneem.

Maroela Media het berig dat Devenish ten tyde van die voorval self gewapen was en twee van die rowers doodgeskiet het toe hulle hom in sy Toyota Hilux voorgekeer het. Die kapers het in ’n Volkswagen Polo met blou polisieligte gery en was in polisieuniform geklee.

Nicolaas James Devenish en sy vrou, Maryna, op hulle troudag. (Foto: Facebook)

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê hulle weet nie waar die mans die uniforms gekry het nie, maar het bevestig dat hulle nie van Mpumalanga afkomstig is nie. Hulle is egter nog in die proses om die tweede kaper te identifiseer.

“Ons kan bevestig dat een van die verdagtes voorheen in hegtenis geneem is in verband met die kaping van motors.”

Hlathi sê die reeksnommer op een van die twee vuurwapens wat die rowers gebruik het, is afgeskuur.

Die ondersoek duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

So hartseer, maar so dapper want so het hy die polisie ontmasker.

Ja wat

Die man is ‘n held hy het sy eie lewe opgeoffer om twee rowers te dood wat ander mense seer sou maak,jy sal onthou word vir altyd my broer. Sterkte aan sy familie en vriende.RIV

Misky

R.I.V. en sterkte aan die familie en in besonder sy jong vroutjie. So ten minste een skurk was voorheen skuldig aan die tipe misdaad. Hoop hulle kyk nou waarom hy vrygelaat is en wie was die regter, want hy het bloed op sy hande

Ovelia

Dink aan julle in gebed. So onnodig

ES

En dit, liewe Bheki Cele, is hoekom wetsgehoorsame burgers die REG moet he om vuurwapens te kan besit.

Ongelukkig het Mnr Devenish met sy lewe geboet – maar hy het 2 van sy vermeende kapers die ewigheid ingestuur en nou kan hulle niemand anders meer leed aandoen nie.

Hy is ‘n moderne held!