Man wat ma vermoor, sê hy ‘is seun van God’

Argieffoto

Argieffoto

Daluxolo Sihlali (42) is Woensdag in die Johannesburg-landdroshof daaraan skuldig bevind dat hy sy ma met ʼn mes doodgesteek en as dood agtergelaat het.

Sihlali het, nadat landdros Simon Radasi sy uitspraak gelewer het, regop gespring in die beskuldigdebank en geskree: “Ek het julle gesê, sodra ek hier uitkom, sal daar oorlog wees. Ek glo nie in instansies nie – ek het onder instansies gely. Ek is die seun van God! Ek is die prins van vrede! Ek is die aarde se regmatige heerser.”

Maroela Media het vroeër berig Sihlali het sy ma, Doreen Sihlali (58), in hul huis in Naturena, suid van Johannesburg, in September verlede jaar vermoor nadat hulle rusie gemaak het oor geld.

Leonita Abramowitz, Sihlali se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê daar kan nie met Sihlali geredeneer word nie en gevra dat hy vir geestelike evaluering gestuur word. Sy het gesê haar kliënt het ʼn geskiedenis van geestelike versteurings.

Sihlali het skuld ontken op die aanklag van moord, maar Radasi het sy alibi verwerp. Sihlali het getuig dat hy sy ma die aand van haar dood alleen by die huis gelos het en omstreeks middernag ʼn voormalige vriendin in Midrand besoek het wat hy die afgelope 20 jaar nie gesien het nie. Hy het gesê hy het sy ma se motor gebruik. Toe hy in die vroeë oggendure terugkeer, het hy sy ma op die vloer in ʼn plas bloed aangetref, het hy gesê.

Radasi het gesê hy vind hierdie getuienis moeilik om te glo. “Sihlali het nie geweet waar die meisie bly nie. Hy het vir haar gaan kuier om weer ʼn romantiese verhouding aan te knoop, sonder dat hy geweet het of sy getroud is of nie. Dit maak nie sin dat hy ʼn vriendin in die vroeë oggendure sal besoek sonder ʼn vooraf reëling nie.”

Radasi het ook verwys na die bekentenis van Sihlali kort ná sy inhegtenisneming toe hy aan die polisie erken het hy het sy ma met ʼn mes gesteek. Hy het later sy bekentenis in die hof teruggetrek en gesê hy het gedink die onderhoud was “informeel en ondersoekend”.

Sihlali sal volgende week gevonnis word.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Narike ·

Ja nee, die Bybel waarsku ons teen hierdie soort laserlike profete. hahahahahahahahahahah

Yvonne ·

Hy is definitief besete met die duiwel, sluit toe en gooi weg daai sleutel

Griki ·

Klink eerder vir my of hy maak of hy geestelik versteur is. Sal nie die eerste een wees nie. Eers het hy erken hy’t sy ma gesteek, toe trek hy die bekentenis terug omdat hy gedink het die onderhoud is “informeel en ondersoekend”. En so lieg hy aan en aan. Dit klink nie vir my na ‘n geestelik versteurde persoon nie, eerder ‘n desperate een wat nie wil tronk toe gaan nie.

Kopkrapper ·

Lees ek dit reg; ‘n 42 jarige vermoor sy 58 jarige moeder?

Help my net om die te verstaan, dink dit is ‘n drukvout dalk?

Mattewis ·

Kopkrapper, dit lyk of sy ma 16 jaar oud was toe sy die knapie voortgebring het. Dit lyk nie vir my onverstaanbaar nie, of is daar iets wat ek op my beurt nie kan verstaan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.