Man wat op video selfmoord pleeg, het glo gemoor

‘n Skermskoot uit die video.

Die man wat die afgelope naweek op video vasgevang is waar hy homself in ʼn straat in Umlazi in KwaZulu-Natal doodskiet, het glo ʼn dag vantevore ʼn vrou vir wie hy bouwerk gedoen het, vermoor.

Die man is sedertdien deur die polisie geïdentifiseer as Sdimi Ngwane, ʼn Mosambiekse burger.

Die skokkende video is Sondagoggend in die Umlazi V-gedeelte met ʼn selfoon vasgevang en sedertdien wyd op sosiale media versprei. Op die video kan gesien word hoe die ooglopend ontstelde Ngwane in die pad op en af langs ʼn VW Golf loop. Ngwane het ʼn vuurwapen in sy een hand en drink uit ʼn bottel in sy ander hand.

Naby die einde van die video kan gehoor word hoe twee skote afgevuur word. Ngwane stap dan tot by die bestuurdersdeur van die voertuig voor hy die vuurwapen teen sy kop druk, ʼn skoot afgaan en hy op die grond neerval.

Dit is in dié stadium nie duidelik wie die skote afgevuur het wat in die video gehoor kan word nie.

Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het in ʼn verklaring gesê Ngwane het vermoedelik Saterdagaand die 34-jarige Cacisile Gumede by haar huis in die KwaXimba-nedersetting in Cato Ridge doodgeskiet. Gumede het as ʼn data-invoerder by die Msunduzi-kliniek in Cato Ridge gewerk en is die ma van twee kinders.

Volgens die departement het Ngwane bouwerk by Gumede se huis gedoen.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê Gumede se liggaam is Saterdag omstreeks 19:00 in haar huis aangetref met ʼn skietwond aan haar nek. ʼn Saak van moord is by die polisie aanhangig gemaak. “Die verdagte in die moord is die man wat homself in die Umlazi V-gedeelte geskiet het,” het Gwala gesê.

ʼn Geregtelike doodsondersoek na Ngwane se dood word gedoen.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die departement is geskok en hartseer oor die voorval. Gumede was ook ʼn lid van die uitvoerende komitee van die ANC-tak in Wyk 1 van die eThekwini-streek. Die ANC het haar dood as ʼn “hartseer verlies vir die volk” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Osie ·

John, asjy nie wil lees of kyk nie, beweeg net aan na die volgende berig.

simpatiek ·

Ek voel onverklaarbaar jammer vir die man. Wat het hom gedryf tot die daad van moord en selfmoord? Dikwels probeer ek my indink die ontbering, honger, dakloosheid, wanhoop en misbruik wat die buitelanders moet verduur in hierdie land. Hulle vlug hierheen met die hoop om uit die haglike omstandighede in hul land te ontsnap en dan hier in die grootste ellende verval. Ek praat dit nie goed nie. Dis net ‘n mens, ‘n siel, vir ewig verlore. So hartseer. Swart of wit. ‘n Mens is ‘n mens met ‘n kosbare Siel.

Mamma ·

Nou hoe het die persoon wat die video geneem het, geweet wanneer om te verfilm?

VanAfrika ·

Ek het vanoggend die hele cenario op facebook gesien, ek dog iemand het hom geskiet want hy het net skote afgevuur, nou lees ek hy het homself geskiet. Daar is ook geen polisie of veiligheid in sig nie.

chris ·

Dit is so hartseer al die moord en doodslag mens lees elke dag daarvan. Hoeveel is nie geidentifiseer as n buitelandse burger nie. My persoonlike opinie is dat Me Gumede hom nie wou betaal nie en daaroor was die argument. Ek het al dikwels met van die buitelandse burgers in die boubedryf gesels en feitelik almal sal vir jou se dat die mense hulle misbruik en as dit by betaling kom is daar altyd n verskoning of die werk is nie reg nie of dit was nie die ooreengekome bedrag nie. Volgens hulle vernaamlik die mense wat een of ander posisie beklee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.