Man wat seun aan die brand steek gesoek

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Thembalethu in George is op soek na inligting nadat ʼn skrootmetaalhandelaar in dié area glo twee seuns ontvoer, hulle aan ʼn boom vasgemaak, paraffien oor hulle uitgegooi en een van hulle aan die brand gesteek het.

Kapt. Dumile Gwavu, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê twee seuns, onderskeidelik 11 en 13 jaar oud, is na bewering vanuit die skrootmetaalwerf ontvoer, waarna die verdagte glo met hulle na ‘n veld naby Ballotsbaai gery het.

“Hulle is glo met toue aan ʼn boom vasgemaak waarna daar paraffien oor hulle uitgegooi is,” het Gwavu gesê.

Die man het toe glo een van die seuns met sy aansteker aan die brand gesteek en hulle daar gelos. “Die seuns kon daarin slaag om hulself te bevry en die aanval te rapporteer. Een van die seuns het brandwonde aan sy onderlyf opgedoen,” het Gwavu gesê.

Die polisie het die klere wat die seuns aangehad het as bewysstukke geneem.

“Die polisie is na die toneel waar die voorval glo plaasgevind het, maar die plaaslike gemeenskap het geweier om saam te werk en vir die polisie te sê wie die verdagte is. Hy het klaar van sy adres [wat deur die seuns verskaf is] gevlug. Die gemeenskap het vir die polisie gesê om terug te kom wanneer die verdagte van die werk af kom. Hulle het die polisie ook in die proses beledig.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Dis daarom dat ons enigiemand met inligting versoek om die polisie by te staan. Hulle moet besef as hulle nie vir die polisie vertel wat hulle weet nie, gaan dit moeilik wees om ’n persoon te vervolg omdat daar te min bewyse is. Die speurders sal nie eens iemand in hegtenis kan neem nie, omdat daar niks is wat die verdagte met die voorval verbind nie,” het Gwavu gesê.

Die polisie het ook die gemeenskap gewaarsku om nie reg in eie hande te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna ·

GODDELOOSHEID vier hooggety in hierdie land Suid Afrika. Mag hierdie wreedaard gevang word en swaar gestraf word. dis n onmenslike ding om te doen.

sug ·

Gaan die polisie nou ook sake teen die mense oopmaak wat hulle beledig het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.